OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-rugbyklub het onlangs altesaam R60 000 ingesamel vir die vyfjarige Marì Lind wat op nege maande met serebrale verlamming (spesifiek spastiese diplegie) gediagnoseer is.
Spastiese diplegie is 'n vorm van serebrale gestremdheid wat 'n chroniese neuromuskulêre toestand van hipertonie en spastisiteit is wat gemanifesteer word as 'n besonder hoë en konstante styfheid in die spiere van die onderste ledemate van die menslike liggaam.
Sy is die dogter van Quintin en Hermien Lind en is op 31 weke prematuur gebore en het weens komplikasies tydens geboorte, 'n tekort aan suurstof gehad.
Alhoewel Marì vyf jaar oud is kan sy nog nie op haar eie loop nie en ontvang sy twee keer per week fisio- en arbeidsterapie. Sy moet ook 'n jaarlikse ondersoek in Kaapstad bywoon waar sy onder andere Botox-inspuitings kry. Hierdie kostes tesame met die hospitalisasie beloop bykans R50 000 wat nie deur die mediesefonds gedek word nie.
Werner Heunis, ondervoorsitter van Oudtshoorn-rugbyklub, sê dat die klub dankbaar is vir sy ondersteuners en die publiek dat hulle ingekoop het by hierdie fondsinsameling om Marì te ondersteun. Heunis het ook al die rugbyklubs in Oudtshoorn uitgedaag om ook by te dra tot hierdie goeie doel.
Van links is Werner Heunis (ondervoorsitter), Ronald van der Wetering (speler van die jaar) en Marius Pienaar (voorsitter).
Tydens Oudtshoorn-rugbyklub se prysuitdeling wat by Route 62 gehou is, is die bedrag aan haar ouers oorhandig. Ronald van der Wetering is aangewys as speler van die jaar terwyl Ruan Els weggestap het met die trofee vir sportman van die jaar.
Vir verdere inligting kontak 083 391 4567.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’