GEORGE NUUS - Die SWD Arende rus nie op hul louere na hul stewige oorwinning van 48 - 0 teen die Zimbabwe Goshawks verlede Vrydag 20 Mei op Outeniquapark nie.
Die Arende was reeds vroeg vandeesweek hard aan die voorberei vir hul volgende wedstryd teen Kenia (Simbas) die komende Saterdag 28 Mei in Kaapstad.
Die span het verlede Vrydag agt keer agter die doellyn gaan kuier wat beteken dat hy nou in sy laaste twee wedstryde 13 drieë gedruk het.
Vrydag was die Arende se grootste oorwinning in vanjaar se eerste divisie van die Curriebekerreeks. Die span het nou ses wedstryde agter die blad waarvan hy vier gewen het en twee verloor het.
Die Arende het uit die staanspoor lus gelyk vir rugby en was rustyd reeds met 19 - 0 voor. Die span het in die eerste helfte drie keer agter die doellyn gaan kuier.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag gesê hy is tevrede met die span. Daar is 'n opwaartse kurwe. Daar is wel aspekte wat moet verbeter.
Van die aspekte wat aandag by die Arende moet kry is byvoorbeeld kontinuïteit in die lynstane en verdediging.
Volgens hom het die Arende meer van die Goshawks verwag. Die Goshawks het wel in die eerste paar minute druk op die Arende geplaas.
Nou wag Saterdag se wedstryd. Moolman het gesê die Simbas is 'n baie fisieke span en beskik oor groot voorspelers wat direkte rugby speel. Hy verwag 'n harde wedstryd voorlangs. Die Arende sal enige momentum van die span moet keer.
Volgens Moolman is die Arende nog in die wedloop in die reeks. Die span beklee op die oomblik die vyfde posisie. Voor die Arende is die OP, Griffons, Black Lions en die Valke.
Saam met Saterdag se wedstryd het die Arende nog drie wedstryde oor. Vrydag
3 Junie speel die Arende op Outeniquapark in waarskynlik hul laaste tuiswedstryd in die reeks teen die Black Lions. Daarna wag die Grens Bulldogs in Oos-Londen op 10 Junie.
Moolman het benadruk dat dinge nog op koers is vir die Arende. As die span twee wenne kry uit die drie oorblywende wedstryde, eindig hy in die topvier. Dit sal wel moeilik vir die Arende wees om tuis 'n halfeindstryd te verseker.
Die SWD Arende en hul bestuur Vrydagaand na hul oorwinning teen die Zimbabwe Goshawks.
Die SWD Arende Vrydag op die aanval teen die Zimbabwe Goshawks.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'