Dit was 'n wedstryd wat enige span kon wen, maar dit was die skopskoen van Evergreens se stelskopper, Leegan Moos, wat die knoop vir sy span deurgetrek het.
Die rustydtelling was 17 elk.
Die eerste helfte het goeie rugby opgelewer met Bridgton wat drie drieë en die besoekers twee aangeteken het.
Daarenteen was die tweede helfte 'n getjommel met min om oor huis toe te skryf. Bridgton het in die helfte meer as een kans verspeel om nog 'n drie aan te teken.
Moos het in die helfte twee strafdoele vir sy span oorgeklits en Adrian Booysen een vir Bridgton.
Booysen het met 'n tweede strafdoelpoging, binne trefafstand, wat sake gelyk kon maak nie die kol getref nie.
Ashwayne Britz (vleuel), Rhupino Plaatjies (senter) en Wayne Julies (flank) het Bridgton se drie drieë gaan druk. Julies het een daarvan verdoel.
Bridgton het met dié nederlaag en slegs 'n enkele bonuspunt afgeskuif na die sesde plek op die punteleer en word die pad na 'n plek in een van die halfeindstryde al hoe steiler.
Bridgton B het met 16-18 verloor terwyl die C-span met 15-10 geseëvier het.
Vir die B-span het Brian Jonathan (heelagter) al die punte aangeteken met 'n drie, doelskop en drie strafdoele.
Vir die C-span het Conroy Tiemie (senter) twee drieë aangeteken. Berty Hendricks (losskakel) het een daarvan verdoel en ook met 'n strafdoel geslaag.
* All Blacks het Saterdag sy wedstryd teen Progress op George met 28-14 verloor.
Willem Jafta en Donovan Claassen het All Blacks se twee drieë gaan druk. JP van Vught en Pieter Stuurman het elk met 'n doelskop geslaag.
Dit is moeilik om die gevaarlike Charlie Ewerts vas te vat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'