SUID-KAAP-NUUS - Manie Libbok, voormalige leerder van Hoërskool Outeniqua in George, is verlede Sondagaand as Nuweling van die Jaar by die SA Sport-toekenningsaand aangewys.
Hierdie spoggerige geleentheid is vir die 17de keer aangebied met die doel om die beste sporttalent in die land te vereer. Vanjaar is die geleentheid by Sun City Superbowl in Noord-Wes gehou met die room van Suid-Afrika wat teenwoordig was.
Libbok is tans lid van Stormers-rubyspan en was ook verlede jaar deel van die seëvierende Springbokke wat die Web Ellis-beker in Frankryk verower het. Hier was Libbok 'n absolute doring in die vlees van sy opponente weens sy visie en flair waarmee hy die spel benader.
Hy word ook deur menigte rugbykenners gesien as die Bokke se langtermynopsie op losskakel weens sy aanvallende dimensie wat hy na die span bring. Sy belowende skopvoet kan ook verder geslyp word wat hom 'n selfs moeiliker kalant vir sy teenstanders sal maak.
Tydens sy toespraak het Libbok gesê dat hy geeërd voel om hierdie gesogte toekenning te kon impalm en het hy almal bedank wat 'n bydrae gelewer het in sy ontwikkeling as speler.
Sy boodskap aan alle opkomende nuwe spelers was om te volhard en te bly glo in hul talent totdat die deure vir hulle sal oopgaan. "Niks is onmoontlik nie," het hy gesê.
Tesame met Libbok is SA Rugby ook met die volgende toekennings vereer:
- Federasie van die jaar - SA Rugby
- Administrateur van die jaar - Mark Alexander (SA Rugby-president)
- Span van die jaar - Springbokke
- Afrigter van die jaar - Jacques Nienaber
- Sportman van die jaar - Eben Etzebeth
- People's Choice-toekenning - Siya Kolisi (kaptein)
- Sportster van die jaar - Siya Kolisi
So het die Wes-Kaap gevaar:
- Skoolspan van die jaar - Hoër Landbouskool Oakdale se toutrekspan
- Rekreasie liggaam van die jaar - Amandla Social Enterprises
- Sportman van die jaar met 'n egstremdheid - Mpumelelo Mhlongo
- Dr. Harold Adams van Boland-atletiek is vereer as 'n ontvanger van die Steve Tshwete Lewenslange Prestasie-toekenning vir sy bydrae tot die ontwikkeling van atletiek in die land.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’