Gallery
SUID-KAAP NUUS - Die Limpopo Blou Bulle o.20-rugbyspan het Vrydagmiddag met hul grofgeskut, wat ses spelers van die Blou Bulle ingesluit het, die Jong Arende in 'n halfeindwedstryd op Outeniquapark 55-15 uit die kompetisie geboender.
Die Jong Arende het vanjaar van krag tot krag gegaan en 11 van hul 14 wedstryde gewen.
Hulle het tweede op die punteleer geëindig met 54 punte en het die Limpopo Blou Bulle op Loftus Versfeld met 43-29 en op Outeniquapark met 31-11 afgeransel.
Die skeidsregter, Paul Sithembele Mente, het vir Luke Haynes (agtsteman) van die besoekers met 'n geelkaart van die veld gestuur.
Limpopo, wat nege skitterende drieë gedruk het, het alle afdelings van die spel oorheers. Pule Molokomme (linkervleuel), wat 'n driekuns behaal het en hul vurige flank, Carl Wijburg, was die wenspan se beste spelers.
Die tuisspan het eerste bloed geruik toe, Jaywin Petersen (linkervleuel), in die tiende minuut oor is vir 'n skitterende drie na 'n puik breekslag deur Maurice Alexander (binnesenter).
Pietersen is in die tweede helfte van die wedstryd oor vir sy tweede drie.
Adriaan Lee du Preez (agtsteman) is ook oor vir 'n drie.
Die Jong Arende se dissipline was by tye swak en hulle het te veel strafskoppe afgestaan. By tye het hulle planloos voorgekom en hul verdediging was power.
Vir SWD het John Graham Botha (flank) voorlangs uitstaande spel in die vastelos gelewer. Hy is vir sy goeie spel beloon as speler van die wedstryd.
Die plaasvervangers, Will Seconds (losskakel) en Justin Levendal (slot) het in die tweede helfte 'n verskil gemaak. Hul slotpaar, Willem Coetzee en Joe Rooyakkers het ook die oog gevang.
Lithemba Mpoli (regtervleuel) en Ronaldo Jansen (heelagter) is talentvolle spelers wat nog diep spore kan trap in SWD-rugby.
Earl Manie, afrigter van die Jong Arende, het na die wedstryd aan die George Herald gesê: "Al die beplanning en harde oefening wat hierdie afgelope twee weke deur die afrigters en spelers van die o.20-span ingesit is, was ongelukkig nie genoeg om die knoop deur te hak nie.
Met die ses versterkings wat Limpopo ingeroep het vir hierdie wedstryd van die onderskeie Blou Bul-spanne, was dit amper van die begin af 'n stryd om deur hul linies te breek hoewel ons nie dit as verskoning wil gebruik nie.
Aan die einde van die dag gaan 'n halfeindstryd oor wie dit die meeste wil hê en hoewel ons met ons hele wese wou deurdring na die eindronde, was die honger van Limpopo net groter.
"Met dit gesê, wil ons as span ons opregte dank uitspreek aan die SWD-rugbyunie wat ons die geleentheid gebied het om te kan deelneem op hierdie nasionale platvorm. Dit beteken baie, veral vir die spelers wat op die vooraand van hul professionele loopbane staan."
Puntemakers:
Limpopo Blou Bulle o.20 55(26): Drieë: Pule Molokomme (linkervleuel, 3), Carl Wijburg (flank, 2), Josefa Lalabalavu (regtervleuel, 2), Thomas Johannes Bedfort (binnesenter), Johannes Coetzee (plaasvervanger). Henry Pike (losskakel) slaag met 3 doelskoppe en Ethan Williams (skrumskakel) klits 2 doelskoppe oor.
SWD o.20 15 (5): Drieë - Jaywin Petersen (linkervleuel, 2), Adriaan Lee du Preez (agtsteman).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'