OUDTSHOORN RUGBY NUUS - Een van die All Blacks-rugbyklub se legendes, Jan "Johnny" Claassen is die afgelope naweek op die ouderdom van 84 ter ruste gelê.
Volgens een van sy dogters, Brendeen Claassen, is haar pa na 'n kort siekbed aan natuurlike oorsake oorlede.
"Ons het my pa twee weke gelede na dr. Merckel toe geneem oor hy gekla het dat hy nie lekker voel nie. Na dié besoek het hy by die huis aangesterk met dr. Gert Nel wat hom gereeld intussen ondersoek asook geestelik bedien het. Op Maandag 22 Januarie het dr. Nel ons pa in sy warm bed, dood verklaar. Pappa het voorwaar 'n vol lewe gelei en ons gun hom die ewige rus."
Benewens sy status as legendariese losskakel op sy dae vir die All Blacks was oom Johnny ook 'n geesdriftige musikant wat deel uitgemaak het van The Gospel Counsellors-musiekgroep. Die groep, wat sedert sy bestaan drie CD's vrygestel het, het bestaan uit ses lede waarvan Claassen die laaste lewende lid was.
Die Claassen-familie het hul patriarg as 'n eenvoudige en liefdevolle, dog streng man beskryf wat sy kinders met wysheid opgevoed het. Hy was bekend en gewild onder die gemeenskap omdat hy skoolkinders vervoer en ook met groente en vrugte gesmous het - 'n ware mense- mens wat daarvan gehou het om geselsies aan te knoop. Sy gunsteling spreekwoordjie wat hy gereeld volgens sy kinders aan almal gesê het was: "Hou goeie moed."
Claassen word deur sy vrou (Dorothy), 9 kinders, 21 kleinkinders en 16 agterkleinkinders oorleef. Op sosiale media het Winston Coerecius hulde aan Claassen gebring en geskryf dat hy 'n ware ambassadeur vir Oudtshoorn en rugby was.
"Uit die asveld van noordeinde het 'n toplosskakel verrys wat met oorgawe en vindingrykheid die rugbyvelde van SWD en OP aan die brand gespeel het. Oom Johnny en die rugbybal was in absolute harmonie ten tye van 'n skepskop, stelskop of drieplant agter 'n doellyn. Sy aftrap, swenk en aangee was simfonies. Lank lewe Johnny Claassen!"
Damon Gysman, voorsitter van die All Blacks-rugbyklub het Claassen se afsterwe betreur en gesê dat die klub een van sy heel grotes verloor het. "Ons innige meegevoel aan die familie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'