KANNALAND NUUS - Langverwag-plaas naby Calitzdorp se nuwe rugbyveld is verlede naweek behoorlik met 'n opwindende plaasrugbytoernooi ingewy.
Alles te danke aan een van die omliggende plaasboere wat onlangs 'n oop stuk grond beskikbaar gestel en verlede week self geskraap het.
Volgens Brendan Lawrence, voorsitter van die landelike rugbyvoetbalunie, beskou hy die nuwe rugbyveld as broodnodige infrastruktuur wat sport en rekreasie in die omgewing tot ongekende vlakke sal bevorder.
"Mense op die plaas is honger vir plaas-rugby en nou kan die gemeenskap uitsien om die hele familie na die veld te bring wat dan ook as 'n uitstappie kan dien. Daar is net soveel wat die gewone man op die plaas op 'n Saterdag kan doen, en om nou rugby op sy voorstoep te kan kyk, sal die wêreld vir hulle beteken.
"Dan sal rugbyontwikkeling in die streek ook teen 'n vinnige pas versnel, want hier is nou 'n veld waar daar volstoom geoefen kan word enige dag van die week met vrye toegang. Bo en behalwe dit sal wedstryde met verkope ook 'n welkome finansiële hupstoot vir plaaslike entrepreneurs beteken. Ons wens is selfs om in die toekoms spreiligte vir aandrugby aan te bring wat totaal die ding op die plaas sal laat ruk," skerts hy.
Plaasrugby word tradisioneel op sand gespeel en Lawrence voeg by dat hulle dit oorweeg om dalk gras ook te plant wat met gryswater natgelei gaan word en deur een van die plaasboere gesny sal word, maar dit is alles nog in die pyplyn en nie 'n dringende aspek nie sê hy.
"Kyk, ons speel al die jare plaasrugby op sand, maar ek kan byvoeg dat die manne baie gedissiplineerd speel met weinige beserings wat aangemeld word.
Verlede Saterdag se unierugbytoernooi was 'n groot sukses met baie karre en toeskouers wat opgedaag het om hul onderskeie plaasrugbypanne soos Volmoed, Welbedaght, Lategansvlei, Kruisrivier, Grootkraal, Matjiesrivier, Rooiberg, Le Roux-rivier en Schoemanshoek te kom ondersteun.
In die eindstryd het Grootkraal Kavaliers vir Kruisrivier in die eindstryd met 25 - 9 verslaan.
Die seëvierende Grootkraal-Kavaliersspan. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'