OUDTSHOORN RUGBY NUUS - Glen Klaas is verlede week amptelik as die hoofafrigter van Bridgton-rugbyklub aangestel. Sy aanstelling deur die nuwe Bridgton-rugbyklub bestuur volg nadat Bridgton se senior spelers in Augustus verlede jaar besluit het om hul eie afrigter te kies nadat die vorige bestuur disfunksioneel geraak het.
Volgens Ian Laubscher, nuwe voorsitter van Bridgton-rugbyklub, het dié bestuur talle aansoeke van ervare en gerespekteerde afrigters ontvang.
"Ons bestuur het egter eenparig op Klaas besluit omdat hy tydens die onderhoud met sy visie vir die klub beïndruk het . Sy kennis van hoe om spelers fisies en veral geestelik op die oefenveld voor te berei het ook as 'n pluspunt getel. Sy kontrak sal tot aan die einde van die jaar geldig wees."
Klaas, wat oorspronklik van Port Elizabeth is, is 'n vlak 1 afrigter volgens SWD-standaarde. Hy is ook in besit van 'n Boksmart-kwalifikasie wat fokus op die veiligheid van spelers. Wat ervaring as afrigter betref, was hy vanaf 2012 tot 2014 by die Blou Bulle-rugbyunie se juniorspanne betrokke. Volgens Klaas besoek hy ook gereeld dié unie om tred hou met nuwe verwikkelinge rakende rugbyafrigting en metodes. Hy het ook al Hoërskool Oudtshoorn se o.14- en o.16-spanne met groot sukses afgerig.
Hy sê dat hy terdeë besef dat die bult te steil is om uit klim voordat Bridgton wéér as 'n geloofwaardige aanspraakmaker op die SWD MicFin Premierliga titel gereken kan word. Die maroentruie het verlede seisoen agtste uit twaalf spanne op die punteleer geëindig.
"Bridgton se spelers het tradisioneel baie talentvolle spelers, maar dis hul fiksheid, dissipline en kennis van hul onderskeie posisionele rolle in die span wat aandag kort. Ons amptelike oefeninge het reeds verlede week in alle erns begin en kan ek die publiek verseker dat die manne behoorlik sweet."
Bridgton se eerste wedstryd sal op 22 Februarie wees wanneer hulle in die Sport Beat MicFin-rugbytoernooi sal meeding. Die SWD MicFin Premierliga skop in Maart af.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'