SUID-KAAP NUUS - Die SWD o/20-rugbyspan is terug op die wenpad nadat hul verlede Vrydagmiddag op 'n sopnat Outeniquapark hul eweknie van Limpopo Blou Bulle met 16-12 geklop het.
Die SWD is in hul eerste wedstryde deur Boland met 49-24 en Griffons met 64-19 getroef.
Die skeidsregter, Bulelani Naka, het in die 31ste minuut van die wedstryd vir Xandré Miller (slot) van die besoekers met 'n geelkaart van die veld gestuur.
Die Jong Arende het 'n groot terugslag gekry toe Pieter van Rensburg Uys (skrumskakel) die veld moes verlaat met 'n enkelbesering en Pieter Ferreira (slot) weens 'n nekbesering. Hulle is onderskeidelik vervang deur Aylan Schabort en Allistair Markgraaff.
Die wenspan verdien 'n pluimpie vir hul goeie verdediging in die nat omstandighede. Marco Raubenheimer (agtsteman) het die vonk voorlangs verskaf. Sy rotsvaste verdedig en kragtige dryfwerk het sy span telkemale oor die voordeellyn geneem. Raubenheimer is ook welverdiend aangewys as speler van die wedstryd.
Stiaan Grobler (flank en kaptein), slotpaar Pieter Ferreira en Jean-Pierre Stopforth, en Winrich Kennedy (loskopstut) het voorlangs 'n barshou gespeel.
Agterlangs het Tristan Fourie (heelagter), Bradley Kiewitz (regtervleuel), Darren Fortuin (buitesenter) en Ronaldo Jansen (linkervleuel) uithalerspel gelewer.
Die Arende se plaasvervangers, Allistair Markgraaff en Jean Fry, het ook 'n groot verskil gemaak.
Puntemakers
SWD o/20 16 (11): Drieë - Stiaan Grobler (flank en kaptein), Ronaldo Jansen (linkervleuel). Darryn Fortuin (buitesenter) slaag met twee strafdoele.
Limpopo Blou Bulle o/20: 12 (7): Drieë - Jason Martins (flank), Esihle Mbilini (plaasvervanger). Xander Kruger (losskakel) slaag met 'n doelskop.
Die Jong Arende speel Saterdagmiddag teen die Pumas in Witbank.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo, Hessequa, Tuinroete nuus'