RUGBY NUUS - Die grootste junior rugbyweek in die land begin Saterdag 1 April by Hoërskool Outeniqua. Die rugbyweek vir o. 14 en o. 15-rugbyspanne word sedert 1995 aangebied deur die skool.
As gevolg van Covid kon dit nie in 2020 en 2021 plaasvind nie. Vanjaar is die 27ste keer dat dit plaasvind.
Altesame 52 spanne van 29 skole het vanjaar ingeskryf. Daar is veral opgewon-denheid oor die o. 14-spanne, aangesien van die toprugbyskole se o. 14-spanne gaan deelneem. Hier gaan dus 1 000 seuns, plus afrigters en ouers by die Kwagga-rugbyweek in George kom kuier.
In dieselfde tyd is daar ook 'n Kwagga junior hokkieweek vir o. 14-seuns en dogters met nog 300 deelnemers. Dit is verseker 'n groot inspuiting vir die dorp se ekonomie.
'n Groot openingseremonie vind môre, Vrydag 31 Maart plaas, waartydens spanne bekendgestel gaan word. Almal is welkom om dit by te woon.
Wedstryde sal plaasvind op Saterdag 1 April, Maandag 2 April en Woensdag 5 April op die velde van Hoërskool Outeniqua.
Toeskouers is welkom en kaartjies kos R50 per volwassene vir al drie die wedstryddae. Skoolgaande kinders is gratis.
Hoofborge
Die twee hoofborge van die rugbyweek is Konica Minolta en Spar Wellington Square. Die organiseerders is baie dank aan hulle verskuldig om die prestige toernooi te kan aanbied. Hoërskool Outeniqua nooi die publiek en gemeenskap uit om die rugbyweek saam te kom geniet.
Die borge, voor van links: Johan Burger (Spur), Eugene du Plessis (Konica Minolta), Gustaf Hofmeister (Spar Wellington Square) en Dean Hanh (Spur). Middel: Wally Goddard (Van Rensburg Foods), Tascha Crause en Elizabeth Coetzer (Chery George), Berneen Muller (Kwagga Trust) en Andrew Claassen (Gatti Ice Cream). Agter: Manie du Toit (Living Ball), Piet Cloete (sporthoof), Ters Giliomee (Top Gear Sport) en Craig Gee (Best Drive). Afwesig: Sidney Haddad (S Haddad Agricultural Services).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’