RUGBYNUUS - Net toe plaaslike rugbyondersteuners weer kon asemhaal na die een punt oorwinnings van die Bokke in die Wêreldbeker, toe daag Heidelberg en Groot-Brak-rugbyklub se A-spanne verlede Saterdag by Outeniquapark op en gee ‘n vertoning wat SWD-klubrugby kierts regop laat sit.
Die beste Superliga A-eindstryd tot op hede van 100 minute van absolute adrenalien en testosteroon waarna Groot-Brak die knoop deurhaak met 31 - 25 na die toegelate 80 minute.
In die eerste helfte het Brak eerste bloed geruik met die skrumskakel, Sachin Toring, wat vroeg oor is vir ‘n skitterende drie in die hoekie. Dit was van die begin af duidelik dat albei spanne goed voorbereid was en dit het soos in 'n ope geheim in die lug gehang dat dit iets besonders sal neem om as die nuwe kampioene gekroon te word.
Heidelberg het egter gesukkel met hul stelskoppe en moes telkemaal die kantlyn opsoek inplaas van pale toe aanlê. Dit het die span van Johan Erasmus, Heidelberg se hoofafrigter, forseer om uit hul velle te speel om te verseker dat hulle in die wedstryd bly.
Heidelberg se linkervleuel, Francois Peters, was ook vir lang tye in die wedstryd 'n doring in die vlees van Brakkies. Kenners meen egter dat sy vernuf eerder op buitesenter aangewend moes word wat Brakkies se lewe nog moeiliker sou gemaak het. Hoe dit ook al sy; dis mosterd na die maal.
Lyndon Hartnick, kaptein van Heidelberg, het sy eweknie, Marquin Smart, met briljante kalmte en goeie leierskap uitoorlê, maar dit was ‘n skepdoel deur die losskakel van Brakkies, Ardén Meyer, wat die wedstryd heeltemal van Heidelberg ontneem het.
Telling 22 - 22 na 80 minute verstreke.
In ekstra tyd het Brak aanval op aanval geloods alhoewel Heidelberg se verdediging steeds sterk gestaan het. Na beide spanne elk 'n strafskop kon oorklits was die telling weereens gelykop 25 - 25.
Met menige ondersteuners wat nou begin bespiegel het oor wie met die louere sou wegstap, was dit Brakkies wat uiteindelik vir Heidelberg tot op sy knieë gedwing het met nog twee strafskoppe wat hul losskakel, Ardén Meyer, koelkop oorgeskop het om die wedstryd finaal te beklink.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’