OUDTSHOORN RUGBY NUUS - Spring Roses is nog sterk op koers om die uitspeelrondes van die Presidentsliga te haal na ‘n oorwinning van 44-27 teen Uniondale United.
Die rustydtelling was 22-15 in Roses se guns.
Roses en All Blacks is in ‘n stryd gewikkel vir die eerste posisie in die President Karooliga. All Blacks het hul seisoen op 58 ligapunte afgesluit na ‘n uitstekende oorwinning Saterdag teen Willowmore United. Roses het tans 54 punte met nog een wedstryd oor te speel.
Die span van Roses het Saterdag op alle silinders gevuur en reeds voor rustyd vier drieë gedruk. Roses het met briljante hardlooprugby die verdediging van Uniondale tot die uiterste beproef. Die eerste drie is gedruk deur die slot, Heinrich Erasmus. Daarna het die vleuel, Marlin Tiemie die verdediging aan die slaap gevang en gaan druk. Riaan Lottering en Morné Basie het die ander twee drieë gedruk.
Roses het daarna aan die slaap geraak en Uniondale toegelaat om terug in die wedstryd te kom met twee drieë.
Na rustyd het Roses weer beheer van die wedstryd oorgeneem en vier skitterende drieë gaan druk. Net desperate verdediging deur Uniondale het gekeer dat Roses nog drieë druk.
Uitblinkers vir Roses onder die voorspelers was Riaan van Wyngaardt, Denzil Belelie, Erasmus en Basie. Veral Basie was op sy stukke. Hy het meters ver veld gewen met sy vernietigende breekslae.
Domenic Smit op die aanval. Foto's: Ebenezer Titus
Agterlangs was die heelagter, Domenic Smit elke keer gevaarlik as hy aan die bal geraak het. Smit het by tye Uniondale se verdediging aan flarde geskeur met sy teenaanvalle. Hy het ook ‘n skitterende drie gedruk.
Ook Dillan van Vuuren, Sedrick Esau en Jeremy Jullies het goeie spel gelewer. Die plaasvervanger senter, Freddie Coetzee en Scott Pretorius het ook beïndruk met hulle goeie spel.
Vir Roses het Basie (2), Riaan Lottering, Aubrey Karelse, Erasmus, Smit, Tiemie en Claude Fortuin drieë gedruk. Fortuin het ook met drie doelskoppe geslaag.
• Roses speel Saterdag hul laaste wedstryd van die seisoen op Beaufort-Wes.
Morné Basie druk een van sy skitterdrieë.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'