RUGBY NUUS - Die voormalige Springbok-flank en Oudtshoorniet, Lucas 'Kabamba' Floors (42) se afrigtingsloopbaan is besig om van krag tot krag te gaan nadat hy vandeesweek as hoofafrigter van die Universiteit Stellenbosch se rugbyspan aangestel is.
Sy termyn sal oor drie jaar strek. Floors, ook 'n oudleerder van Hoërskool Môrester, spog as speler met 207 eersterangse wedstryde waar hy onder andere vir SWD Arende, Cheetahs en Stormers uitgedraf het.
Hy was ook kaptein van beide die Springbok-Sewesspan en SWD Arende.
Wat Floors se afrigtingsloopbaan betref het Oudtshoorn Courant in 2021 berig dat Floors 'n assistentafrigtingspos by WP-rugbyunie losgeslaan het en het hy ook vroeër welslae by die Maties se Young Guns-rugbyspan behaal.
Menige rugbyliefhebbers het Floors se ervaring en prestasies op sosiale media geprys en hom alle sterkte toegewens in sy nuwe pos; wie weet, eendag kan hy dalk selfs die Bokke afrig!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’