TUINROETE RUGBY-NUUS - Evergreens-rugbyklub van George het Saterdag op die Bridgton-sportterrein gewys waarom hy tans die voorloper op die SWD MicFin Premierliga se punteleer is toe hy Bridgton-rugbyklub met 36-26 geklop het.
Dié span het met rustyd 20-8 agter geloop, maar het 'n terugvegpoging soos min in die tweede helfte geloods om die tuisspan verslae huis toe te stuur.
Bridgton het eerste punte aangeteken toe die vleuel, Duzell Avontuur, twee verdedigers geklop het om in die hoekie te druk. Die kaptein en senter, Anver Venter het verdoel.
Kort daarna was Evergreens vir onkantspel by die afbreekpunte gestraf en kon Venter die strafskop deur die pale jaag wat die telling meteens op 10-0 te staan gebring het.
Evergreens se agterspelers het egter geleidelik mekaar begin vind en het met konstante fasespel daarin geslaag om hul vleuel Luciano Jones oor te stuur vir 'n onverdoelde drie. Hul losskakel, Winry Stoffels, het ook enkele minute daarna vergoed vir die verbroude doelskop toe hy met n strafskop geslaag het. Telling 10-8.
Bridgton het tien minute voor die eerste helfte 12 onbeantwoorde punte op die telbord geplaas toe die losskakel Adrian Booysen (skepdoel), Bradwin Wanies (onderskepdrie) en Anver Venter (doelskop) verseker het dat die tuisspan met 'n gesonde voorsprong die eerste helfte afsluit.
Evergreens het met die aanvang van die tweede helfte dadelik 'n verdoelde drie deur Grant Hoogbaard, slot, gedruk wat Stoffels verdoel het wat die span weer in die wedstryd gebring het. Venter het egter die telbord vir die tuisspan aan die rol gehou toe hy weer met n strafskop suksesvol was. Telling 23-15.
Die energieke flank, Wayne Julies, probeer 'n gaping soek. Foto: Wyndham Ewerts
Die keerpunt in die wedstryd het egter in die 70ste minute gekom toe die groentruie se losskakel (Stoffels) soos 'n warm mes deur botter Bridgton se verdediging oopgesny het om onder die pale te gaan druk. Hul heelagter, Reagan Moss, het verdoel met Evergreens wat nou met slegs een punt agter was.
Die besoekers se ondersteuners het ook meer luidrugtig in die paviljoen begin raak waarskynlik omdat hulle gevoel het dat die momentum nou met hulle span is. En hulle was reg. Telling 23-22.
Venter het Bridgton se laaste punte van die wedstryd aangeteken toe hy met 'n moeilike strafskop van buite die kwartgebied geslaag het. Die damwal het egter uiteindelik in die 70ste minuut gebreek toe Evergreens twee verdoelde drieë (flank Ronaldo Baartman en Stoffels) gedruk het wat die wedstryd buite Bridgton se bereik geplaas het.
Eindtelling 36-26. Bridgton se volgende wedstryd is Saterdag 1 Junie teen Groot-Brak-rugbyklub in Groot-Brak.
Bridgton se B-span het met 32-22 verloor teen Evergreens B-span. Bridgton se C-span het met 14-7 geseëvier oor Evergreens se C-span.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'