DYSSELSDORP NUUS - Die eerste span van Dysselsdorp Rangers het Saterdag op die Rec sy rieme styfgeloop toe die span sy kragmeting in die Karoo-streekkompetisie van die SWD teen Adias van Volmoed met 20-24 verloor het.
Adias het rustyd met 14-10 voorgeloop.
Dysselsdorp is egter, ten spyte van die nederlaag, steeds die voorlopers op die punteleer.
Dit was volgens Dysselsdorp se hoof-afrigter, Arnold Claassen, 'n klipharde, meedoënlose wedstryd waarin geen genade getoon of gevra is nie en die skeidsregter, John Dyason, sy hande vol gehad het om die vrede te bewaar.
"Die humeure het gedurig opgevlam en die vuiste het behoorlik geklap. Dit is net 'n wonderwerk dat die wedstryd voluit geduur het en geen speler ernstig beseer is nie."
Dysselsdorp het eerste punte aangeteken toe Davestine Esau (heelagter) met 'n strafdoel geslaag het. Adias het hierna met twee verdoelde drieë geantwoord om met 14-3 voor te loop.
Dysselsdorp het kort voor rustyd die agterstand laat krimp met 'n drie deur Patrick Jaftha (vleuel) wat ook deur Esau verdoel is.
Dysselsdorp se voorspelers was by tye skitterend, met veral die slot André Fredericks, wat 'n uitstekende wedstryd gehad het.
Hy is dan ook as sy span se speler van die wedstryd aangewys.
Adias se agterlyn was volgens Claassen by tye giftig en die manne van Dysselsdorp moes bontstaan om al die gate toe te stop. "Ongeag die vuisgevegte was dit 'n uitstekende wedstryd wat goeie rugby opgelewer het."
Die jong plaasvervanger-flank, Chris Prins, het Dysselsdorp se ander drie gaan druk wat deur Donnis Makonie (senter) verdoel is, terwyl Esau met nog 'n strafdoel in die tweede helfte geslaag het.
Dysselsdorp B het met vyf drieë 'n puik bonuspunt oorwinning van 27-25 oor Adias B behaal.
Devron Willeman (vleuel), M. Jaftha (agtsteman), Chris Prins (flank), Adrian Piedt (stut) en W. Cloete (slot) was die driedrukkers.
Danillo Antonie (losskakel) het een drie verdoel.
Dysselsdorp Rangers speel hul laaste ligawedstryd op 11 Augustus teen Calitzdorp op Calitzdorp.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'