DYSSELSDORP NUUS - Dysselsdorp Rangers het Saterdag sy onoorwonne status in die Karoo-streekkompetisie van die SWD met 'n gelykop uitslag (19-19) teen Swings van Haarlem behou.
Rangers het rustyd met 7-6 voorgeloop.
Volgens Arnold Claassen, woordvoerder van Dysselsdorp Rangers, was dit ‘n moeilike wegwedstryd en moes die span alles in die stryd werp om die tuisspan tot ‘n gelykop uitslag te dwing. Dysselsdorp het drie drieë teenoor Swings se een aangeteken.
Drieë vir Dysselsdorp is gedruk deur Donnay Makonie (heelagter), Eric Campher (agtsteman) en Edwin Soman (senter). Davestine Esau (vleuel) het met twee doelskoppe geslaag.
Uitblinkers vir Dysselsdorp was agterlangs Donnay Makonie en Ben Gertse (vleuel), asook Edwin Soman (senter). Voorlangs was dit Peet Samson (slot) en Dawid Coerecius (stut) wat die oog gevang het.
Dysselsdorp se tweedes in het net-net met 'n enkele punt (14-15) teen Swings se naasbestes verloor.
Jason Jantjies (losskakel) het 'n drie vir Rangers gaan druk wat hy self verdoel het, terwyl 'n strafdrie ook aan die span toegeken is.
Die klub speel Saterdag op sy tuisveld in ‘n belangrike wedstryd teen die enigste ander onoorwonne span, Adias, in die kompetisie.
Daar sal ook 'n wedstryd tussen die oud-spelers van Rangers asook skolerugby gespeel word.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'