Hennie Baartman, president van SWD-rugby, het by die bekendstelling van die toernooi, verlede Saterdagoggend in die Bridgton Senior Sekondêr skoolsaal op Oudtshoorn, gesê dat dié projek se jaarlikse groei daartoe bydra dat dit hoog aangeslaan word deur Saru-bestuurslede.
Oregan Hoskins, Saru-president, het persoonlik om verskoning gevra dat hy nie die toernooi kan bywoon nie.
Die toernooi vind op 16 en 17 Mei plaas en 38 spanne, waaronder 18 o/19-seunsspanne, 10 o/13-seunsspanne, agt o/16-seunsspanne en vier o/16-meisiespanne, sal deelneem. 83 wedstyde word in die toernooi gespeel.
"Dit is `n projek waarop ons trots is en ons is bly om daarmee geassosieer te word. Vir ons (SWD-rugby) en Saru is dit `n belangrike platform vir voorheen benadeelde skole," het Baartman Saterdag gesê.
"So trots as wat ek vandag is dat Bevin Fortuin uit SWD se klubstrukture die Arende afgerig het sodat hulle hul eerste kwarteindstryd in vier jaar kon haal, so trots is ek dat 14 spelers van kleur ingesluit is in die SWD Arende se 22-tal wat in Oos-Londen gespeel het, waarvan nege spelers in die begin vyftiental, en steeds het die span vyf waardevolle bonuspunte verdien. Daardeur sê ons dat ons kinders wel op meriete kan presteer en spanne haal."
Baartman het gesê dat ontwikkelingstoernooie soortgelyk aan die Zibi-sewes ook in die toekoms na Boland en moontlik die Oostelike Provinsie uitgebrei sal word.
Saterdagoggend se bekendstelling is bygewoon deur Francois Davids, Saru-bestuurslid, en Marius Schoeman, SA sewes akademie afrigter wat sewesafrigters tydens `n afrigtingsessie touwys gemaak het.
`n Besoek deur Heyneke Meyer, vergesel deur Hoskins, aan SWD word ook in die vooruitsig gestel, waartydens die Springbokafrigter plaaslike afrigters onder hande sal neem.
Die afrigter van die Springbok Sewesakademie, Marius Schoeman, het verskeie plaaslike afrigters Saterdag touwys gemaak in sewesafrigting. Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'