RUGBY NUUS - Die Gold Cup het amptelik Saterdag afgeskop met 32 spanne wat meegeding het om 'n plek in die Top-16 van vanjaar se Gold Cup-kompetisie. Crusaders van George en huidiger premierliga-kampioene, het met die gevreesde span van Tygerberg koppe gestamp op Outeniquapark.
Die wedstryd het begin soos 'n oorlog tussen twee aartsvyande. Dit was duidelik, die span wat die fisiese geveg wen, sal as oorwinnaars uit tree.
Dit het immers nie lank gevat vir Crusaders om te wys wie hierdie wen die meeste wil hê nie. Clinton Wagman wat die afgelope nege maande die wêreld aan die brand speel met sy spel het binne die eerste drie minute oorgeval vir sy drie in die hoekie naby die telbord.
Die Tiere het teruggeveg en het by tye poging op poging begin, maar kon net nie die vasberade verdedigingslyne van Crusaders kraak nie.
Coyi Banda, losskakel van Crusaders, wat die span gelei het soos 'n Manie Libbok, het gesorg vir groot kopsere vir Tygerberg wanneer Crusaders op die aanval was. Hy het die agterlyn dikteer met berekende balverspreiding en met goeie voorvoetbal vanaf die voorspeler kon Tygerberg nie 'n kans staan nie.
Xavier Scholtz, veteraanhaker, het gespeel soos 'n jong Schalk Britz van ouds. Die 38-jarige onderwyser aan Laerskool Parkdene het definitief sy leerders trots gemaak en het met 'n welverdiende speler van die wedstryd-toekenning weggestap.
Dit was veral tydens gebroke spel en op verdediging waar Scholtz sy staal gewys het. Hy is goed bygestaan deur Dean Malherbe, flank wat net sowel die toekenning kon verower het met sy onophoudelike aggressiewe spel wat Tygerberg net nie kon neutraliseer nie. Xavier was werklik net té goed. Crusaders het by tye swaargetrek tydens skrumtyd, maar het in die lynstane telkemaal gewys wie is baas.
Die wedstryd is uiteindelik oortuigend met 42 - 20 gewen. Groot wedstrydtemperament deur Crusaders was duidelik sigbaar tydens hierdie kragmeting.
Ricardo Beukes, afrigter van Crusaders het na afloop van die wedstryd gesê dat die kompetisie nét deur hulself verloor kan word, "Guys ons speel net een wegwedstryd en dit is volgende naweek in Pretoria, net ons kan die geleentheid deur ons hande laat glip."
Hierdie komende naweek kom Crusaders te staan teen die span van Gqeberha, PE Harlequins, 'n span wat hierdie seisoen die Oos-Kaap op horings het met hul aanskoulike spel.
Ná Saterdag se verrigtinge is dit duidelik dat Crusaders moeilik gekeer gaan word in sy agterplaas. Elke wedstryd is soos een groot uitspeelronde, jy verloor, jy gaan huis toe. Crusaders is nog nie van plan om hul truie op te vou nie.
Sherwin Slater, binnesenter en onderkaptein, het voorwaardelik sy span vorentoe geneem met sy kraglopies en bankvas verdediging.
Rugbygemeenskap, trek op na Outeniqua-park die komende Saterdag en ondersteun die span van Parkdene, jou ondersteuning het baie bygedra tot Saterdag se geskiedkundige wen.
Heidelberg het te staan gekom teen 'n magtige reus van WP-rugby, Valsbaai. Meer as trots kan die gemeenskap van Heidelberg nie wees nie. Wat hierdie groep spelers oor die afgelope drie seisoene vermag het kan niemand van hulle ontneem nie.
Na al die jare se goeie spel is hulle beloon met die insluiting in die Gold Cup, maar kon nie daarin slaag om suksesvol oor die eerste hekkie te spring nie. Valsbaai RFK wat in 2016-finale gespeel het en uiteindelik die beker in 2017 verower het, het die wedstryd met 38 - 17 gewen.
Heidelberg, jy bly SWD-rugby se trots!
Buran Parks, flank staan geensins terug vir sy teenstanders nie, met Xavier Scholtz wat verhoed dat die Tygerberg-speler verder moet gaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’