GEORGE NUUS - Die Multisure Crusaders (Wolwe) beklee nou die 5de posisie op die punteleer in die Superliga A na hul oorwinning teen Bridgton op Saterdag 20 Mei. Die eindtelling was 25 - 15. Die span het met die oorwinning twee plekke op die punteleer opgeskuif.
Die wedstryd is op die veld van Parkdene gespeel en die eerste helfte is gekenmerk deur 'n wipplankstryd.
Toe rustyd aanbreek was Crusaders nog met 10 - 8 agter. In die tweede helfte het die span egter die skip gedraai en teruggeveg. Hulle het selfs 'n bonuspunt gekry toe Donovan Schutte 'n drie in die doodsnikke van die wedstryd gedruk het. Die spelers het die wedstryd as 'n oorlog tussen die lyne beskryf.
Volgens James Stevens was die punte-makers vir Crusaders: Terzaan Malgas (twee keer agter die doellyn gekuier), Regean Gertse (een drie), Donovan Schutte (een drie), Raunley Alexander (doelskop) en Chowen Booysen(drie).
Man van die wedstryd was Shayne-Lee Rollison.
Die span sien uit na die volgende wedstryd op 8 Junie teen Evergreens op hul tuisveld. Daarna op 24 Junie teen Progress. Na verwagting sal beide harde wedstryde wees.
Die spanbestuurder, Gavin Muller, het Maandag sy dank aan die groep ondersteuners uitgespreek vir dit wat hulle vir die spelers op die veld beteken.
Volgens hom was die afgelope Saterdag 'n goeie oorwinning en die span sien uit na die volgende wedstryd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’