OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Collegians-rugbyklub het Saterdag die span van Spring Roses in 'n opwindende SWD Super-B-liga-wedstryd met 23-19 geklop.
Alhoewel Roses in die eerste helfte saam met die wind gespeel het, kon hulle dié voordeel nie uitbuit om druk op Collegians te plaas nie.
Roses se spelers het in hierdie tydperk Collegians van alle posisies op die veld met hardlooprugby probeer aanval en verkies om nie met skoppe vir gebiedsvoordeel te speel nie. Die rustydtelling was 8-7 in Collegians se guns.
In die tweede helfte het Collegians gedurig die telbord aan die rol gehou terwyl Roses opvang-rugby moes speel. In die laaste tien minute van spel met die telling op 23-19 en Spring Roses wat 'n drie gekort het vir 'n dramatiese oorwinning, het dié span Collegians se verdediging tot die uiterste beproef, maar sonder sukses. Eindtelling 23-19.
Die senterpaar van Collegians, Alexander Josephs en Gerthwin Johnathan sowel as hul stut Warren Olifant het elk agter die doellyn gekuier. Die 19-jarige Prinshane Carolus het twee strafskoppe en een doelskop oorgeklits.
In 'n SWD-Super A-liga wedstryd het Bridgton vir Barbarians van Mosselbaai op Jan van Riebeeck stadion met 19-13 geklop.
Spring Roses se senter, Hanchlo Jansen duik oor vir sy drie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'