UNIONDALE NUUS - Collegians-rugbyklub hul SWD-Presidentsligawedstryd teen Uniondale op Uniondale met 24-18 gewen. Die rustydtelling was 13-5 in die wenspan se guns.
Dit is Collegians se tweede oorwinning vir die seisoen nadat hulle die vorige week vir Beaufort-Wes op Beaufort-Wes gewen het.
Volgens Julies Fillies, sekretaris van Collegians, het die spelers van die afskop af goed saam gespeel, mekaar goed ondersteun en gedoen wat die afrigters vir hulle gevra het.
"Die voorspelers het soos gewoonlik kragspel gelewer en die agterspelers kon na hartelus baljaar met die balbesit. Slegs onnodige hanteerfoute het Collegians van 'n groter oorwinning weerhou."
Vir Collegians het hul een flank, Raynaldo Adams, 'n bars hou gespeel. Hy is ook as die speler van die wedstryd aangewys
Die haker, Trevor Esau, het weer gewys watter bate hy vir die klub is, deur telkens balbesit by die afbreekpunte te wen.
Agterlangs het Willem Goliath gewys wat die waarde van 'n blitsige binnesenter kan wees. Hy het telkemale deur die verdediging gebreek en ook self goed verdedig.
Danovan le Roux en Marshall Fortuin, die twee vleuels, het ook skitterspel gelewer.
"Die afrigters van Collegians kan tevrede wees met hul spelers se spel. Hulle kan net op die vertoning van die afgelope twee wedstryde voortbou," het Fillies gesê.
Uniondale se klubvoorsitter, John Damons, sê hy is vol hoop vir sy span.
"Hierdie is maar die begin van die seisoen. Die manne moet mekaar net vind en hul samespel verbeter."
Puntemakers vir Collegians
Drieë: Danovan le Roux en Willem Goliath (elk een drie). Skoppe: Robert Botha (een doelskop en vier strafskoppe).
Collegians se B-span het die B-span van Uniondale met 17-10 gewen.
Collegians speel eerskomende Saterdag in hul eerste derby wedstryd van die seisoen, teen All Blacks op die Bridgton-sportterrein.
Puntemakers vir Uniondale
Drieë: Armbev Blaauw en Christiaan Barnard (elk een drie). Skoppe Lorenzo Baatjies (twee strafskoppe).
'Ons bring jou die nuutste Uniondale, Klein Karoo nuus'