OUDTSHOORN NUUS - Collegians se A-span het die afgelope naweek Willowmore United in 'n SWD Presidentsligawedstryd op die Oudtshoorn-sportterrein met 43-17 kaf gedraf nadat hulle rustyd met 19-7 voorgeloop het.
Drie van Collegians se gereelde eerstekeuse-spelers kon weens beserings nie speel nie, maar hul plaasvervangers het hulle goed van hul taak gekwyt. Die losskakel van Collegians, Christopher Snyman, het die spel dikteer en sy agterlyn goeie voorvoet-bal gegee, waarmee hulle gate na willekeur in die verdediging van Willowmore geslaan het.
Die ou strydros, Trompie Campher, het weereens bewys dat ervaring nie te koop is nie en het twee drieë aangeteken.
Na verlede week se nederlaag teen All Blacks het Collegians karakter gewys en net weer vir die afrigters gewys dat dié verloor slegs deur 'n gebrek aan kommunikasie tussen die spelers was.
Die afrigter, Seppie Ekstraal, het die spelers gemaan om kop te hou vir die wedstryde wat nog voorlê.
Vir Collegians het Trompie Campher (heelagter) twee drieë gedruk. Ray-Brian Jonas (regtervleuel), Gerthwin Jonathan (binne-senter), Evan Holley-(flank), Warren Olifant (haker) en Keegan Makshella (skrumskakel) het elk een drie gedruk. Jason Plaatjies-(vleuel) was in die kol met twee doelskoppe.
Warren Olifant en Keeagan Makshella het elk een doelskop verdoel. Collegians se B-span het Willowmore se B-span met 28-15 geklop. Collegians reis hierdie naweek na Prins Albert waar hulle teen die tuisspan kragte sal meet.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'