OUDTSHOORN NUUS - Collegians het verlede Saterdag nog 'n oorwinning behaal toe hulle die span van Beaufort-Wes met 33-7 geklop het. Die rustydtelling was 12-7 in Collegians se guns.
Die wedstryd het teen 'n vinnige pas begin toe Collegians van die afskop af begin aanval het en die span van Beaufort-Wes onder druk geplaas het.
Na goeie samespel deur die voor- en agterspelers, het die heelagter van Collegians, Arlynn Sylvester, oorgeduik het vir die eerste drie van die wedstryd.
Beaufort het hulle reggeruk en na goeie dryfspel het hul een flank deurgebars vir 'n drie wat deur hul losskakel verdoel is. Beaufort het met twee punte voorgeloop.
Na volgehoue druk deur die spelers van Collegians en ongeoorloofde spel deur Beaufort, het die skeidsregter geen ander keuse gehad as om 'n strafdrie aan Collegians toe te ken nie.
Collegians het na halftyd gesukkel om aan die gang te kom en het onnodige foute gemaak.
John Plaatjies, Collegians se losskakel, het die groef gebreek en 50 meter genael vir 'n skitterende drie wat deur Prinshane Carolus verdoel is.
Na 'n goeie deurskop deur Carolus, het Plaatjies weer agter die doellyn geland vir sy tweede drie van die wedstryd. Carolus het die drie van die kantlyn af verdoel.
Shedwick Sauls loop hom in Beaufort-Wes se verdediging vas.
Collegians het nou verwoed aangeval en met speeltyd verstreke, het die een senter van Collegians, Marshall Fortuin, oorgeduik vir die laaste drie van die wedstryd. Carolus het weer die drie verdoel.
Collegians se B-span het die B-span van Beaufort-Wes met 40-17 geklop. Vir die B-span het Nigel Buys en Bertran Hendricks elk twee drieë gedruk en Christopher Herwel, Uran Moses en Denilson.
Goliath het elk een drie gedruk. Buys het 'n strafskop deur die pale gejaag terwyl Bertran Hendricks een drie verdoel het.
Hul laaste liga-wedstryd is Vrydag 10 Augustus teen Harlequins op die Bridgton-sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'