OUDTSHOORN RUGBY-NUUS - Collegians het hul seisoen op 'n hoë noot afgesluit toe hulle die span van Harlequins met 46-34 geklop het. Die rustyd telling was 19-17 in Collegians se guns.
Dit was 'n moeilike wedstryd, waar geen genade gevra of gegee is nie. Al twee spanne het aanvanklik die bal in die eerste 20 minute lug gegee, maar hegte verdediging deur beide spanne het punte beperk. Die wedstryd het ook heeltyd met skoppe wipplank gery as gevolg van strafskoppe. Die eerste drie is eers kort voor rustyd deur Collegians gedruk.
Hul linkervleuel Jason Plaatjies het, soos 'n warm mes deur botter, deur 'n gaping geglip en oorgeduik vir 'n drie, wat deur Prinshane Carolus, losskakel, verdoel is. Harlequins het egter onmiddellik na die afskop teruggeslaan en Collegians se verdediging aan die slaap gevang en 'n onverdoelde drie gedruk.
Na rustyd het beide spanne doelgerigte aanvallende rugby gespeel. Net foute op kritieke tye het drieë verhoed. Collegians het egter eerste bloed geruik toe Plaatjies oor is vir sy tweede drie. Harlequins het onmiddellik teruggeslaan toe die linkervleuel in die hoekie oor is.
Na die afskop het Collegians 'n strafskop afgedwing en 'n vinnige tikskoppie deur Leagan Brits (skrumskakel) het die Michael Tyali (flank)weggestuur vir 'n onverdoelde drie. Harlequins het onmiddellik teruggeslaan en na briljante samespel tussen voor en agterspelers gaan druk.
Die spreekwoordelike een vir jou en een vir my het net na die afskop voortgeduur toe Collegians weer gaan druk het. Die regtervleuel, Danovan le Roux, het die bal pragtig uit die lug gegryp en begin hardloop. Hy het Tyali wat byderhand was gevoer wat deur Harlequins se verdediging gebars het vir sy tweede drie van die wedstryd.
Nagel Cupido op die verdediging. Foto's: Ebenezer Titus
Met sewe minute speeltyd oor het Collegians 'n aanval geloods waar voor- en agterspelers pragtig gekombineer het. Die heelagter Guwanie Williams het in die agterlyn gespring en oorgedraf vir 'n pragtige verdoelde drie. Harlequins het na die afskop alles in die stryd gewerp om die agterstand uit te wis, maar 'n onderskepdrie deur Collegians het die uitslag bo alle twyfel gestel.
Plaatjies het die bal vyf meter van sy eie doellyn af onderskep en deurgedraf vir sy derde drie.
Collegians se afrigter, Seppie Ekstraal, was baie ingenome met sy spelers se algemene spel.
Ekstraal sê dat niemand uitgesonder kan word nie, omdat elke speler homself goed van sy taak gekwyt het.
Collegians se B-span het die B-span van Harlequins met 48-12 verslaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'