OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span beleef tans een van sy swakste seisoene in jare nadat hy die afgelope naweek vir die 10de keer verloor het toe hy in 'n SWD Premierliga-wedstryd teen Heidelberg op hul berugte "Never Lose Park" met 34-15 verloor het.
Dit was 'n power dag op kantoor vir die maroen truie met selfs die B-span (21-5) en die C-span (21-7) wat ook die onderspit gedelf het.
Met hierdie nederlaag is daar geen kans dat Bridgton vanjaar die uitspeelwedstryde kan haal nie.
Voor die aanvang van Saterdag se wedstryd was Bridgton se A-span in die agste posisie (37 punte) op die algehele Premierliga-punteleer uit 'n totaal van 12 spanne, dieselfde aantal punte as Blanco van George wat negende lê.
Evergreens van Pacaltsdorp is tans die voorloper met 63 punte.
Bridgton se A-span. Foto: Wyndham Ewerts
Die Oudtshoorn Courant het op 23 Mei berig dat die SWD-rugbyvoetbalunie (SWDRVU) 'n aantal skrywes ontvang het van bekommerde ondersteuners en oudbestuurslede oor die manier hoe die klub tans in terme van finansies en bestuursaanstellings bestuur word.
Die klub het ook sedert die aanvang van die seisoen reeds vier afrigters vervang. Volgens Hennie Baartman, president van SWDRVU, het dié raad eenparig besluit om nie met Bridgton se huishoudelike sake in te meng, tensy wedstryde daardeur geraak word nie.
By navraag het Bridgton-rugbyklub se voorsitter, Benito Metembo, gesê die bestuur is bewus van die A-span se swak spelpeil en dat daar hard agter die skerms gewerk word om wéér 'n wenkultuur te skep. "Dit is so dat ons 10 wedstryde vanjaar verloor het en die bestuur maak geen verskoning daarvoor nie. Dit is egter nie die eerste keer in die geskiedenis van die klub dat ons so swak vaar nie. Ons was in 2013 in 'n bykans soortgelyke posisie, maar kon steeds daarin slaag om die beker te wen," het hy gesê. Oor die vier verskillende afrigters wat dié klub in 16 wedstryde tot dusver vervang het, het Metembo beklemtoon dat dié bedankings (hetsy persoonlik of vir afrigtersredes) buite sy beheer is.
"Omdat ons 'n amateurrugbyklub is, kan die bestuur niemand forseer om iets vir die klub te doen nie."
Metembo het ook beweringe oor swak finansiële bestuur en twyfelagtige bestuursaanstellings ontken. "Volgens ek en die bestuur is hierdie kwessies, waarvan ons vir die eerste keer in die media gelees het, reeds intern aangespreek en beskou ons dit as afgehandel." Bridgton se volgende wedstryd is 8 Augustus teen Blanco op die Bridgton-sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'