OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span het die afgelope naweek in Pacaltsdorp vir die tweede keer in drie wedstryde vanjaar vasgeval toe hulle die onderspit teen Evergreens met 22 - 14 gedelf het.
Ofskoon al die wedstryde tot dusver vriendskaplike wedstryde ter voorbereiding van die SWD Super A-liga is wat op 18 Maart teen Jaguars in Plettenbergbaai begin, is daar rugbyliefhebbers en ondersteuners wat meen Bridgton se tekortkominge moet daadwerklik aangespreek word.
"Dit is geen geheim dat ons tans sukkel in die lynstane nie. Dis 'n groot probleem vir ons want jy moet die bal in die hand hê om rugby te kan speel en om punte op die telbord te sit. Die kontaksituasies is tans nog 'n area van kommer omdat sommige van ons spelers fisies net nie opgewasse is om die 'hard hits' te kan vat in die A-span nie.
"In kort - ons het vleis om die been nodig en dit geld vir die voorry ook. Dis goed om individuele briljante en X-faktorspelers in ons midde te hê wat 'n wedstryd in 'n oogwink vir jou kan swaai, maar rugby is ook 'n fisiese game waar struktuur en die wil om jou wedstrydplan af te dwing, die verskil tussen wen en verloor is.
"'n Lang seisoen wag vir ons as dit nie reggestel word nie. Nietemin, ek back my boys all the way," was die algemene sentiment.
Ondanks dié nederlaag, is die afrigter van die maroentruie, Stanley Kruger, positief oor die pad vorentoe.
Kruger merk op dat die telling 'n tawwe stryd reflekteer en dat die wedstryd enige kant toe kon geswaai het as strategiese besluitneming en verbroude kanse in ag geneem word.
Volgens Kruger het hy ook vyf sleutel-spelers gemis en gebruik hy dit nie as verskoning nie, maar as 'n aansporing dat sy troepe bewys het dat daar diepte in die span is waarop voortgebou kan word.
Bridgton se B-span het 21 - 16 gewen, terwyl hul C-span net-net met 8 - 7 vasgeval het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'