RUGBYNUUS - Bridgton-rugbyklub se opmars om in die topvier op die SWD Super A-liga punteleer aan die einde van die seisoen te eindig, het verlede week 'n stewige hupstoot gekry toe hul A-span vir Jaguars van Plettenbergbaai met 41 - 14 ore aangesit het.
Die wedstryd is by Bridgton-sportterrein gespeel en teen rustyd was die telling reeds 19 - 7 in die tuisspan se guns.
Ook Bridgton se B-span was met 32 - 17 baas terwyl die C-span ook hul teenstanders met 40 - 5 gekarnuffel het.
Vir die A-span het die heelagter en kaptein Adrian Booysen, Charlstoin Ewerts (vleuel), Ronaldo Botha (skrumskakel), Wayne Julies (flank), Anver Venter (heelagter) en Everton Manewil almal agter die doellyn gaan kuier. Botha het twee doelskoppe oorgeklits met Venter wat ook 'n strafdoel behaal het.
Bridgton se volgende wedstryd is eers-komende Saterdag teen Progress in George. Die maroen truie het in die eerste ronde in Maart vir Progress met 36 - 31 geklop.
Die flank Wayne Julies was oudergewoonte weer 'n derduiwel met die bal in hand.Foto: Keenyah Weyers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’