Bridgton het met 30-23 gewen nadat hy sy bonuspuntdrie reeds in die 20ste minuut van die wedstryd aangeteken en rustyd met 24-12 voorgeloop het.
Dit was 'n aanskoulike wedstryd waarin albei spanne bereid was om met die bal te hardloop en die skare meer as die waarde van hul geld gegee het.
Bridgton het soos 'n stoommasjien afgesit en in die 8ste minuut agter die besoekers se doellyn gaan kuier toe die stut, Enzo
Erasmus, in die hoek oor is vir 'n drie wat Barbarians met broeke op die knieë betrap het.
Dit is miskien onregverdig om uitblinkers in Bridgton se span uit te sonder, maar die senterpaar, Anver Venter en Rhupino Plaatjies, was miskien die twee grootste dorings in Barbarians se vlees. Hulle het saam 20 punte aangeteken.
Hier is 'n senterpaar wat selfs nie die SWD Arende in die steek sal laat nie. Veral Venter het gewys watter talentvolle sportman hy is. Sy lopie langs die kantlyn af wat gelei het tot Plaatjies se drie was uit die boeke.
Venter het die bal op sy eie 22 meter lyn in die hande gekry. Hy het twee keer met lugskoppies verby sy opponente gekom en weer die bal in die hande gekry. Toe hy naby die doellyn voorgekeer is, het hy die bal voordat hy uitgeduik is, oor die verdedigers se koppe na binne gegooi vir Plaatjies om oor te duik.
Venter se eie drie in die 10de minuut van die wedstryd nadat hy pragtig gebreek en deurgetol het, was ook 'n juweel.
Bridgton se derde drie is ook met 'n slim skop van Venter aangevoer. Die keer was dit die slot, David Goliaths, wat in die hoek oor is.
'n Effense bron van kommer vir Bridgton se afrigters egter was die talle strafskoppe wat die span afgestaan het. Dit het Morné Buis, skrumskakel van Barbarians, in staat gestel om sy span in die prentjie te hou met ses strafdoele.
Barbarians het in die tweede helfte met 'n verwoede aanslag gekom en vroeg punte gekry toe Whaylon Anthony (heelagter) oor is vir 'n drie om die agterstand tot 17-24 te laat krimp. Buis het kort hierna met sy vyfde strafdoel geslaag om die telling 24-20 te maak.
Hierna was daar groot drama toe Barbarians op die punt was om weer die doellyn oor te steek maar 'n grensregter het sy vlag reeds uitgehad vir 'n oortreding op die middellyn. Venter was net-net kort met die langafstand, maar was 'n kort rukkie later sukses vol nadat Barbarians se agttal onder kwaai druk gestraf is vir onkantspel. (27-20).
Die besoekers het nie gaan lê nie en van die volgende aanvalsbeweging 'n strafdoel vlakvoor die tuisspan se pale gekry om slegs met vier punte agter te loop (27-23).
'n Vinnige skepskop deur Rhupino Plaatjies het die telling op 30-23 te staan te bring.
Teen die einde was dit net die rots-vaste verdediging van die tuisspan wat verhoed het dat Barbarians die louere deel.
Bridgton se B en C-spanne was nie so suksesvol nie en het onderskeidelik met 15-55 en 12-17 in die stof gebyt. Vir die B-span het Jeahoenai Jordaan (vleuel) en Roberto Botha (heelagter) elk 'n drie gaan druk. Botha het ook met 'n doelskop en strafdoel geslaag.
Vir die C-span het Herschelle America (heelagter) en Heinrich Erasmus (slot) drieë gedruk. Bernard Jonathan (losskakel) het een daarvan verdoel.
* In 'n opwindende vriendskaplike wedstryd tussen die twee klubs se "Legends", wat vir groot pret gesorg het, het Barbarians met 22-15 gewen.

Die eerstespan van Bridgton na sy oorwinning van 30-23 oor Barbarians. Inlas: Anver Venter, senter van Bridgton, wat Saterdag 12 punte met 'n drie, twee doelskoppe en 'n strafdoel aangeteken het. Foto's: Garnett Wicomb