GEORGE NUUS - Plaaslike rugbyspanne het die afgelope naweek in George op Outeniquapark goeie rekenskap van hulself in die Sport Beat T20-rugbytoernooi gegee.
Twaalf spanne het deelgeneem wat Blanco, Bridgton, Knysna United, All Blacks, Young Roses, Maoris, Sport Beat XV, Eagle Stars, Blacks Lions, George, Crusaders, Silverstars. Harlequins, Langkloof Blossoms, Rooster Rugby George en Uniondale ingesluit het.
Bridgton-rugbyklub het uiteindelik in die eindstryd teen George met 14-5 vasgeval,
Die toernooi het Vrydagaand reeds afgeskop met drie spanne van Oudtshoorn (Bridgton, All Blacks en Harlequins), wat deurgedring het na die tweede ronde wedstryde wat Saterdag gespeel is.
In die kwarteindstryd was Harlequins te sterk vir All Blacks en hulle met 34-10 gestoomroller. Bridgton het sy stryd teen Uniondale op dieselfde tyd op die B-veld gewen.
Dit het meegebring dat 'n sappige Oudtshoorn-halfeindstryd teen Harlequins en Bridgton op die spyskaart was. Harlequins het, soos verwag, met hul dominante pak voorspelers oorheers en Bridgton van meet af onder groot druk in die vaste fasette geplaas. Dit het egter nie op die telbord weerspieël nie, met Bridgton wat rustyd met slegs vyf punte teenoor nul agtergeloop het weens 'n onverdoelde drie deur Harlequins.
In die tweede helfte moes Bridgton weereens met skrapse balbesit klaarkom, maar 'n oomblik van individuele briljantheid deur die vleuel Charlton Ewerts, het Bridgton met 10 minute speeltyd weer hoop gegee om tog teen alle verwagtinge die kastaiings uit die vuur te krap. Ewerts het die bal binne sy eie halfgebied onderskep nadat Harlequins se heelagter, Jaylon Pretorius, se aangee in Ewerts se hande beland het, en hy sy ore platgetrek het doellyn toe. Die doelskop was suksesvol met beide spanne wat geen verdere punte in die wedstryd kon aanteken nie.
Bridgton wen dus met 7-5.
In die eindstryd teen George-rugbyklub het Bridgton weereens gesukkel met die fisieke aanslag waarmee die tuisspan gespeel het en het soos verwag, twee tipiese voorspelerdrieë in die eerste helfte afgestaan wat die wind uit hul seile gehaal het.
Bridgton kon laat in die tweede helfte 'n troosdrie druk, maar teen daardie tyd was die koeël reeds deur die kerk.
SWD se klubrugbyliga begin oor twee weke.
Rhupino Plaatjies, loskakel van Harlequins breek deur 'n gaping.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'