OUDTSHOORN SPORTNUUS - Nuwe optimisme en opwinding is te bespeur by Bridgton-rugbyklub se onder-steuners nadat dié klub verlede Saterdagaand by De Opstal Country Lodge net buite Oudtshoorn saamgetrek het om die klub se nuwe visie vir die 2023-seisoen getiteld, On the Rise, aan die spelers en bestuur voor te stel.
Geskiedenis van die klub
Die klub, wat ook 'n splinternuwe afrigtingskorps aangestel het, is vasbeslote om volgende jaar die bordjies in die SWD Super A-liga te verhang na 'n middelmatige seisoen vanjaar.
Bridgton-rugbyklub is in 1992 gestig en het die SWD Premierliga, wat nou bekendstaan as die SWD Super A-liga, reeds drie keer in sy bestaan gewen. Die klub is ryk aan geskiedenis en prestasies soos plaaslike legende Warren Malgas wat junior Springbok-kleure op o. 19-, o. 20- en o. 23-vlak behaal het. Keith Meyer was die klub se eerste speler wat SWD-kleure kon verwerf met talle wat in sy voetspore gevolg het. Op administratiewe vlak het die klub se oud-A-span-speler, Hennie Baartman, ongekende sukses behaal waar hy SWD-rugby se president vir 12 jaar was. Tans tien Baartman ook op die SA rugby se uitvoerende raad - 'n eerste vir die streek.
Bridgton se visie, On The Rise
Baartman, wat ook die president van Bridgton-rugbyklub is, het Saterdagaand tydens sy spreekbeurt erken dat die klub vanjaar een sy swakste seisoene nog beleef het.
"Alles is egter nie doom en gloom nie; en dis hoekom die bestuur tesame met die nuwe voorsitter, Philip Goliath, planne beraam het om ons geliefde klub weer na voormalige hoogtes te neem," het Baartman gesê.
Deel van die klub se nuwe visie, On The Rise, is om weer 'n wenkultuur te kweek wat ook eenheid van spelers sowel as die bestuur van die klub se finansies insluit.
Baartman het daarop klem gelê dat passie, dissipline en harde werk die hoekstene sal wees vir hul ambisies om aanstaande jaar sukses op die veld te bereik. Dit sluit ook in dat praktyke, waar spelers wedstryde wil kies waarin hulle wil speel, onaanvaarbaar is. Deel van die klub se strategie sal ook wees om voortdurend op die uitkyk te wees om nuwe spelers van ander dorpe te werf om sodoende diepte in sleutelposisies te verseker.
Die spanne sal ook volgende jaar in nuwe truie uitdraf met sy tradisionele maroen-en-wit gestreepte kouse. Die aanskaffing van ' n nuwe skrummasjien is ook boaan die prioriteitslys.
Beleid vir verwing en aanstelling van afrigters
Baartman het dit duidelik gemaak dat geen speler of afrigter van die klub finansieel vergoed sal raak nie, bloot omdat die klub dit kan bekostig nie. Borge wat aan boord kom sal wel reiskostes, tydelike akkommodasie en kosuitgawes dek.
"Die bestuur het ook besluit om alle spelers en afrigter 10 dae te gee om deeglik te besin of hulle vir Bridgton wil speel, al dan nie. Indien die antwoord bevestigend is sal harde werk, dissipline, stiptelikheid en lojale verbintenis aan die klub ononderhandelbaar wees," het Baartman benadruk.
Na afloop van die formaliteite Saterdag-aand het die almal teenwoordig die klub se lied, Jou noem ek net Bridgton uit volle bors gesing waarna 'n heerlike braai gevolg het.
Die klub se voorseisoen-oefeninge vir 2023 begin reeds op 1 November.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'