OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub het die afgelope naweek in die SWD Premierliga hul slag weer gewys en 'n wegholoorwinning van 72-15 oor Blanco behaal.
Dit was Bridgton se linkervleuel, Charlton Ewerts, wat die pas aangegee het, balbesit goed gebruik het en vier keer agter die pale gaan druk het.
Ganfried May, buitesenter, het aan Ewerts se sy gebly en spog ook met drie drieë. Algernon Waarts (slot), Lee Henry Meyer (regtervleuel) en Anver Venter (heelagter) het ook elk 'n drie vir Bridgton aangeteken. Venter het sy bydra tot die 72 punte vergroot deur drie drieë te verdoel.
JP Duvenhage (binnesenter) het 'n doelskop tussen die pale deur gestuur, terwyl Keanin Esau (plaasvervanger skrumskakel) met twee doelskoppe geslaag het.
In die Presidentsliga sukkel Oudtshoorn nog om by die bevordering van Karooliga na Presidentsliga aan te pas. Hulle het net-net met 30-33 teen Willowmore verloor.
Oudtshoorn se klubvoorsitter, Ferdie Janse van Rensburg het die afgelope week gesê: "Ons het nou wel drie van ons vyf wedstryde verloor, maar die span en bestuur bly vol hoop."
"Voor die uitspeelrondes, halfeindstryde en eindstryd is daar nog 13 wedstryde oor. Geen span kan nou al verseker wees van 'n plek in die uitspeelrondes nie." Vir All Blacks was dit eenrigtingverkeer na Beaufort-Wes se doellyn. Hulle het die Groot Karoo se boere met 74-0 oorrompel. Damon Gysman, voorsitter van All Blacks-rugbyklub sê hulle sal vir nog groot opwinding in die SWD Presidentsliga sorg.
Silver Stars het Maori's met 29-21 gewen.
Die nuweling in die Premierligakompetisie, Heidelberg het op hul tuisveld die gedugte span van Groot-Brakrivier in 'n rillerstryd van 22-20 geklop het.
Die oudleerder van Hoër Landbouskool Oakdale, Pieter van Rensburg Uys, wat verlede jaar vir die SWD o.18 Cravenweekspan uitgedraf het, het die wenpunte in die 80ste minuut aangeteken toe hy 'n strafdoel vanaf die middellyn oorgeskop het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'