RUGBY NUUS - Bridgton-rugbyklub het verlede Saterdag in 'n SWD Super A-wedstryd vir Barbarians van Mosselbaai op die Bridgton-sportterrein oortuigend met 34 - 18 verslaan. Hierdie oorwinning het weer nostalgiese oomblikke van glorie vir Bridgton-ondersteuners opgeroep vir die kliniese manier hoe die tuisspan die sege behaal het.
Die maroen truie was redelik stadig uit die blokke en het na 10 minute met 6 - 0 agter geloop.
Dit het egter nie lank vir Bridgton geneem om die enjin warm te maak nie en na 'n paar minute van konstante fases van balbehoud het die flank Jolan Saptouw, vleuel Tyrese Pietersen en losskakel Craig Ellis oorgeduik vir hul onderskeie drieë - al hierdie drieë was onverdoeld met die aangewese stelskopper en losskakel vir die dag, Ellis, wat sy skopskoene by die huis vergeet het.
Baabas het egter oomblikke daarna vir die eerste en laaste keer in die wedstryd agter die pale gaan kuier nadat die tuisspan vir 'n breukdeel van 'n sekonde slapgelê en konsentrasie verloor het - drie onverdoel. Rustydtelling 15 - 11.
In die tweede helfte het Saptouw weer gedruk wat deur die plaasverganger Jaden-lee Moos verdoel is. Bridgton se pak voorspelers het al hoe meer begin domineer met veral die slot, Everton Manewil wat gereeld na hartelus stormlopies van tussen 10 en 15 meter uitgevoer het. Dit is in hierdie gebroke spel waarin die tuisspan se giftige agterspelers gedy het en die laaste spyker in Barbarians se doodskis gekap het met twee drieë deur Ellis en Moos waarvan een deur Moos uit die hoekie verdoel is. Eindtelling 34 - 18.
Die wedstryd het nie minder as vyf geelkaarte (een vir Bridgton en vier vir Baabas) opgelewer en moet daar daadwerklik na beide spanne se dissipline aandag geskenk word.
Nietemin is die wedstryd in algemene goeie sportmangees gespeel en voltooi. Bridgton se volgende wedstryd is volgende Saterdag 6 Mei in Riversdal teen die tuisspan, Riversdal Blues.
- Bridgton B-span het 10 - 31 verloor teen Barbarians.
- Bridgton C-span het 15 - 18 verloor teen Barbarians.
Verlede naweek se resultate in die SWD Super A-liga is as volg:
- Jaguars klop Riversdal Blues 14 - 11
- Evergreens klop Heidelberg 26 - 25
- Blanco klop Maori's 37 - 29
- Crusaders klop Brak 38 - 26
- George klop Progress 30 - 12
Na vyf wedstryde is Evergreens voor op die algemene punteleer met 23 punte gevolg deur Heidelberg wat 19 punte het. Barbarians is in die derde posisie met 17 punte terwyl Bridgton tans 16 punte het.
Crusaders van George het tans 15 punte in die vyfde posisie, maar het slegs drie wedstryde gespeel.
Craig Ellis vlieg soos 'n swaeltjie oor die doellyn vir een van sy twee drieë.
Anver Venter se fisiese teenwoordigheid was by tye een te veel vir Baabas. Foto's: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’