RUGBYNUUS - Bridgton-rugbyklub het verlede week sy eie skrummasjien aangeskaf. Dié projek tel as een van die suksesverhale van die klub se bestuur onder leiding van die voorsitter, Phillip Goliath.
Die nuwe skrummasjien is vervaardig deur leerders van Oudtshoorn Vaardigheidskool onder die toesig van opvoeder, Ernest Loff.
Volgens Goliath is skrums een van die belangrikste vaste fasette van rugby en juis daarom is die klub in sy noppies oor die nuwe aanwins.
"Ons vertrou dat die spelers kan baat met die nuwe skrummasjien. Die tydsberekening is ook betyds omdat ons verlede week ons laaste wedstryd van die SWD Super A-liga se eerste ronde gespeel het.
"Namens die bestuur van Bridgton wil ons die hoof van die Vaardigheidskool, Gavin Block, bedank vir die skool se gemeenskapsbetrokkenheid. Duisend dankies ook aan Loff en sy span vir 'n kwaliteit produk," het Goliath gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’