OUDTSHOORN NUUS - Liezel Wilkens (28) is op 4 November, tydens Bridgton-rugbyklub se algemene jaarvergadering, verkies as die eerste vrouevoorsitter van dié klub.
Met haar passie vir rugby en 'n diep gewortelde liefde vir die sport, bring sy vars energie en 'n visie vir groei na die klub.
"Dit is vir my 'n voorreg om verkies te word. Ek het hierdie jaar vir die eerste keer as lid aangesluit, maar ek het dadelik geweet ek wil 'n groter rol speel."
Wilkens, wat voorheen by Harlequins-rugbyklub betrokke was, was ook mede-aanbieder op die Facebook-blad, Tussen die Lyne met Pappa & Kie, wat Sondae gesprekke gevoer het oor die afgelope naweek se SWD-klubrugbywedstryde.
"Ek is mal oor rugby, maar ook oor my gemeenskap. Die klub het ongelooflik baie potensiaal. Die idee is nie om alles te verander nie, maar te verbeter op wat ons het. Ek wil ook meer jongmense betrokke kry en kyk hoe ons by ander kan help."
Sy beklemtoon ook haar visie om meer jongmense te betrek en gemeenskaps-ontwikkeling te bevorder deur samewerking met ander.
Wilkens is getroud met Monroe Wilkens, 'n afrigter by Bridgton-rugbyklub, en 'n ma van twee. Sy werk ook vir die afgelope aantal jare by Ruwacon waar sy haar passie vir konstruksie kan uitleef.
Die ander bestuurslede is: Hennie Baartman (president), Shane January (ondervoorsitter), Enverino Swartz (tesourier), Elize Goliath (addisionele lid) en Andries Hamman (trustee).
Baartman het gesê hy is trots op haar aanstelling as voorsitter.
"Sy kom uit 'n rugbyfamilie. Haar pa, Vicky Petersen, is bekend in rugbykringe in Bellville. Sy beskik oor ongelooflike vaardighede, en ek is oortuig dat haar kennis, dryf en ywer die klub na nuwe hoogtes sal neem."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’