RUGBY NUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag in ' n Super A-liga in 'n titaniese stryd vir Progress met 36 - 31 geklop. Die wedstryd is by die Bridgton-sportterrein beslis.
Progress word as een van die groot kanonne in die liga beskou, terwyl Bridgton verlede jaar in 'n teleurstellende agste plek geëindig het.
Bridgton het binne die eerste 40 sekondes soos 'n koeël uit 'n geweer weggespring met 'n briljante verdoelde drie deur hul senter en kaptein, Adrian Booysen wat die tuisspan dadelik op die voorvoet geplaas het.
Hierdie drie was die katalisator van selfvertroue wat die tuisspan nodig gehad het om tot hul volle potensiaal te speel sonder selftwyfeling.
Na die kaptein se drie, het die jongeling, Tyrese Pietersen, langs die kantlyn afgenael en tot vier verdedigers na die lug laat tas wat Bridgton se voorsprong verder gerek het.
Die res van die dag het egter aan Bridgton se veteraanvleuel, Charlston Ewerts, behoort wat in die eerste helfte drie drieë gedruk het - hy sou in totaal vier vir die dag druk!
Wat Ewerts se prestasie so besonders maak is die feit dat hy al vir die afgelope 15 jaar vir die klub speel. Waar ander spelers se spoed oor die jare afneem en fiksheid uiteindelik 'n groot rol speel tot uittrede, blyk dit dat Ewerts jaarliks net vinniger en vinniger word - 'n ware testament tot hierdie speler se absolute gedissiplineerde lewenstyl; soos rooiwyn word hy net beter.
Bridgton het die eerste helfte met 31 - 10 afgesluit met menige toeskouers wat vergewe kon word as hulle gedog het die wedstryd is reeds in die sakkie. Progress het egter in die stilte, ander planne gehad.
In die tweede helfte het twee relatiewe vinnige drieë deur die besoekers die momentum van Bridgton weggerokkel wat gesukkel het om die wedstryd te beheer in hul vaste fasette. Dit is veilig om te sê dat onnodige hanteringsfoute en oorgretigheid verantwoordelik was dat die maroentruie stadig maar seker, hul eie graf gegrawe het.
Dit was veral in die lynstane en skrums waar dinge ook behoorlik gelol het. Nie minder as 15 keer moes die skeidsregter die skrums herset sodat daar van vooraf meegeding kon word - 'n taktiek wat duidelik die tuisspan se energie getap het.
Van die oog af, uit 'n gewigsvergelyking met dié van Progress se voorry, blyk daar nie veel verskil te wees nie, maar die manier hoe Progress die skrum gedomineer het, sou mens sweer dis Os du Randt of Balie Swart wat Bridgton se teenstanders was.
Jan Allerman langs die kantlyn is dit eens dat die tuisspan se skrumtegniek behoorlik aan bande gelê is, en dat daar vandeesweek hard aan hierdie aspek gewerk moet word om 'n soortgelyke oordondering verder in die liga te vermy.
Tien minute voor afblaastyd met die spreiligte wat reeds aangeskakel was weens swak lig, het Ewerts sy vierde drie gedruk tot groot verligting van die tuisskare.
Progress se kannie-houding het hulle egter enduit in die prentjie gehou en met vyf minute se speeltyd oor, en die telling 36 - 31 in Bridgton se guns, kon die wedstryd steeds enige kant toe swaai.
Desperate verdediging met elke greintjie energie in hul moeë bene, tesame met opskietgebedjies dat die skeidsregter uiteindelik die wedstryd moet afblaas, is al wat Bridgton uit die kake van die dood gered het toe Progress permanent in die laaste minute op hul doellyn geboer het. Progress het egter met die laaste beweging van die dag 'n strafskop afgestaan waarna die wedstryd afgeblaas het.
Die algemene Bridgton-ondersteuner se sentiment was dat hul bloeddruk die betrokke dag die hoogte in gejaag is weens 'n kombinasie van uitstekende veggees deur Progress en oorgerustheid deur die maroentruie.
Bridgton se volgende wedstryd is eerskomende Saterdag teen nog 'n groot hond in die liga, Evergreens van Pacaltsdorp. Die wedstryd begin van af 12:00 by die Bridgton-sportterrein.
Charlston Ewerts het vier pragdrieë met brute spoed gedruk. Foto's: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’