OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die A-span van Bridgton-rugbyklub het Progress van George Saterdag in 'n SWD MicFin Premierligawedstryd gemaklik met 33-25 geklop.
Bykans 5 000 ondersteuners van albei klubs het die wedstryd bygewoon met Die Plate, soos die Bridgton-sportterrein ook bekend staan, wat uit sy nate gebars het.
Voor die afskop van die wedstryd was daar ook 'n minuut van stilte vir die afgestorwe Gaylon Piedt (26) wat verlede jaar by Leentjiesklip in Wilderness verdrink het. Piedt was tot en met sy ontydige dood ’n lid van Bridgton se B-span.
Sy twee kinders Charlin Jooste (8) en Lameez Piedt (4) het ook dié wedstryd bygewoon, en het as deel van die klub se eerbetoning aan Piedt die geleentheid gekry om met die kaptein en binnesenter Anver Venter die A-span op die veld te lei.
Bridgton het die wedstryd teen 'n slakkepas begin en in die eerste 20 minute talle hanteerfoute gemaak wat hulle van kosbare balbesit beroof het. Progress het aanvanklik hul stempel op die wedstryd afgedruk en die tuisspan was in die tyd gelukkig om met slegs tien punte agter te loop (13-3).
In die 25ste minuut het 'n skitterende breekslag deur Bridgton se heelagter Bradwin Wanies vir Venter in staat gestel om teen die verloop van spel 'n verdoelde drie in die hoekie te gaan druk. Bridgton se toeskouers was in vervoering toe die stut, Carlo Jacobs, boonop direk daarna oorval vir sy drie.
Bridgton se kaptein Anver Venter (middel), stap met die afgestorwe Gaylon Piedt se kinders Charlin Jooste (links) en Lameez Piedt op die veld. Foto's: Wyndham Ewerts
Net voor die einde van die eerste helfte was Venter suksesvol met 'n strafskop wat die rustydtelling op 18-13 te staan gebring het. Die tweede helfte het rampspoedig vir Progress begin toe die ervare Charlton Ewerts met 'n stukkie briljante individuele spel die besoekers se verdediging oopgevlek het om Venter vir sy tweede drie weg te stuur. Venter het sy eie drie verdoel wat die tuisspan se voorsprong na 25-13 gerek het.
Progress het teruggeveg en in die 63ste minuut 'n drie van hul eie druk. Tien minute later het Bridgton se flank Blaine James in die hoek 'n verdoelde drie gaan druk wat die wedstryd buite Progress se bereik geplaas het met die telling wat op 33-18 gestaan het met slegs 'n paar minute se speeltyd oor.
Venter het in dié wedstryd 'n allemintige 23 punte aangeteken. Progress het 'n minuut voor die einde wedstryd 'n verdoelde troosdrie gedruk, maar teen daardie tyd was die koeël reeds deur die kerk. Die eindtelling was 33-25.
Bridgton C-span wen Progress C-span (25-20).
Bridgton B-span speel gelykop teen Progress B-span (10 -10).
Die ervare vleuel Charlton Ewerts het 'n reuse wedstryd gehad.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'