Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Bridgton het die afgelope Sondag vriend en vyand verras deur Progress op die Bridgton-sportterrein met 39-32 te klop.
Die rustydtelling was 12-10 in Bridgton se guns. Dit was Progress se eerste verloor die seisoen. Dit was Bridgton se tweede keer wat een van hul wedstryde op televisie uitgesaai is, maar dié keer het hulle baie beter gevaar.
Progress het eerste bloed geruik en Bridgton geskok deur binne die eerste twee minute te gaan druk na volle agterlynbeweging. Bridgton het egter terugbaklei met 'n drie nadat Charlie Ewerts (linkervleuel), 'n losbal opgeraap en 50 meter doellyn toe genael het.
Wayne Julies het Bridgton 'n paar minute later verder laat voorloop met 'n briljante drie nadat voor- en agterspelers die bal skitterend hanteer het.
Progress het geantwoord met 'n drie om die rustydtelling op 12-10 te staan te bring.
In die tweede helfte het Bridgton op alle silinders gevuur en Progress onder geweldige druk gesit. Die kampioenspan het begin foute gemaak wat dadelik deur Bridgton uitgebuit is. Die regtervleuel Bradwin Wanies het Bridgton se derde drie gedruk na uitmuntende spel deur die plaasvervanger-heelagter Anver Venter.
Venter het die bal vorentoe geskop na 'n teenaanval en die bal uit die lig gepluk en vir Wanies gevoer wat rieme neergelê het doellyn toe. Keanin Esau het kort daarna deur Progress se verdeding gedartel vir Bridgton se bonuspunt drie. Ewerts het die wedstryd vir Bridgton verseël nadat hy nog 'n fout van Progress uitgebuit het. Ewerts het soos 'n vetgesmeerde blits 'n losbal opgeraap en hakskene vir Progress gewys om onder die pale te gaan druk. Progress het in die laaste minuut 'n troosdrie gedruk.
Onder die voorspelers het Wayne Julies 'n massiewe wedstryd vir Bridgton gehad. Ander uitblinkers was Wesley Le Roux, Mondi Stofile, Marvin Barnard en Boutros May. Agterlangs was Ewerts, Dean Januarie, Esau en Graham September goud werd vir hul span.
Vir Bridgton het Ewerts twee drieë gedruk terwyl Julies, Wanies en Esau elk een gedruk het. Esau het ook met vier doelskoppe en twee strafskoppe deur die pale gejaag.
Mario Jansen, Bridgton se afrigter sê dit was 'n massiewe poging van sy span om Progress te klop.
"Ons is deur 'n moeilike tyd die afgelope maand op die rugbyveld. Die manne het egter karakter gewys deur Progress van hulle voete af te speel. Ons wil ook dankie sê vir ons ondersteuners en die hele gemeenskap van Oudtshoorn wat Sondag bankvas agter ons gestaan het. Ons is bly ons kon hulle wys hoe klop mens die SWD kampioene."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'