OUDTSHOORN NUUS - Bridgton het hul kans om in die halfeindstryd van die Premierliga te speel Saterdag lewendig gehou deur Mosselbaai Barbarians naelskraap met 25-22 op die D'Almeida-stadion te klop. Bridgton en Evergreens van Pacaltsdorp is al twee op 54 ligapunte.
Beide spanne het nog een wedstryd oor om te speel.
Bridgton wat nie 'n kans gegun was om die wedstryd teen Barbarians te wen nie het vriend en vyand verras.
Die rustydtelling was 12-11 in Barbarians se guns.
Bridgton het eerste bloed geruik toe die immergroen linkervleuel, Charlie Ewerts gaan druk het. Keanin Esau, losskakel, het daarna met twee strafskoppe geslaag om Bridgton verder te laat voorloop. Barbarians het egter terug met twee drieë en 'n doelskop geslaan.
Barbarians het na rustyd weer 'n onverdoelde drie gedruk om die telling op 17-11 te staan te bring. 'n Strafdrie is kort daarna aan Bridgton toegeken nadat hulle die skrum van Barbarians verniel het. Barbarians het egter nie gaan lê nie en hul vierde drie gaan druk om die telling 22-18 te maak.
Anver Venter het Barbarians se harte gebreek toe hy 'n skitterdrie gaan druk het met net 'n paar minute speeltyd oor. Esau het geslaag met die doelskop om Bridgton met 25-22 te laat voorloop.
Onder die voorspelers het Blaine James, Jan Simmers en Wayne Julies uitgeblink. Agterlangs was Graham September, Rhupino Plaatjies en Anver Venter goud werd vir Bridgton.
Bridgton speel Saterdag op die Bridgton-sportterrein teen Silver Stars wat 'n sukkel seisoen beleef.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'