RUGBYNUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag teen Groot-Brakrivier 'n loesing van 40 - 17 op die lyf geloop. Bridgton se B- en C-spanne was ook aan die verloorkant met 32 - 10 en 19 - 10 onderskeidelik.
Dié Super A-liga-wedstryde is in Groot-Brakrivier gespeel met 'n groot skare wat teenwoordig was om die spanne aan te moedig. Die A-span se rustydtelling was 19 - 7 in Groot-Brak se guns.
Hierdie nederlaag plaas Bridgton nou vyfde op die algehele punteleer met 31 punte na 10 wedstryde.
Slegs die topvier spanne aan die einde van die liga sal kwalifiseer vir die eindronde. Wat egter duidelik soos daglig is, is dat die maroen truie iewers in die tweede ronde die huidige top-4-spanne, Heidelberg (37 punte na 10 wedstryde), Evergreens
(37 punte na nege wedstryde), Groot-Brak (36 punte na 10 wedstryde) en Crusaders (33 punte na sewe wedstryde) moet klop om die uitspeelwedstryde te haal. Rugby is egter onvoorspelbaar en enige iets kan nog gebeur.
Bridgton speel eerskomende Saterdag hul laaste wedstryd van die eerste ronde teen Maoris op die Oudtshoorn-sportterrein (REC).
Maoris is tans tweede laaste op die algehele punteleer met slegs een oorwinning uit 10 wedstryde en sekerlik sal die tuisspan poog om 'n bonuspuntoorwinning uit hierdie wedstryd in te palm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’