OUDTSHOORN SPORTNUUS - Ondanks die feit dat Bridgton-rugbyklub se A-span Saterdagmiddag vyf drieë teen Groot-Brakrivier gedruk het, moes hulle uiteindelik die knie met 40-27 buig.
Hierdie loesing beteken dat die maroentruie se aanslag op 'n plek in die uitspeelwedstryde van die baan is.
Dit blyk 'n uitgemaakte saak te wees dat Bridgton nou in die algehele vyfde plek op die punteleer sal eindig; 'n verbetering van verlede jaar se agtste plek.
Diè SWD Super A-ligawedstryd was by 'n stampvol Bridgton-sportgronde gespeel in koue toestande.
Bridgton het 'n vroeë terugslag beleef in die wedstryd toe hul staatmaker-vleuel weens 'n skouerbesering vervang moes word. Die teleurstelling was duidelik op menigte toekouers se gesigte omdat daar gevrees is dat hierdie ontydige besering die wedstryd kan beïnvloed, en so was dit ook.
Dit was duidelik uit die staanspoor dat dit die tuisspan se wedstrydplan was om Groot-Brakrivier se swaar voorspelers na lug te laat tas met hardlooprugby, maar die afronding van hierdie ambisieuse plan het egter nie gereeld genoeg gerealiseer nie.
So het die maroentruie drie geleenthede kort voor die tweede helfde gehad om drieë te druk, maar is elke keer vyf meter voor Groot-Brak se doellyn gestuit. Met die gevolg moes die tuisspan met 'n agterstand van 22-10 kleedkamers toe vir rustyd.
In die tweede helfte het Bridgton 'n vasberadenheid getoon om mintens 'n bonuspunt uit hierdie wedstryd te verdien deur vier drieë te druk. Anver Venter, veteraanspeler en agsteman van Bridgton, moet uitgesonder word vir sy uitmuntende spel. Venter het deurgaans verdedig en op die aanval het hy teenstanders met minagting na willekeur weggestamp asof hulle lastige muskiete was. In die proses het hy twee keer agter die pale gaan kuier.
Venter het 'n week voor Saterdag se kragafmeting aangekondig dat dit sy laaste wedstryd is en weliswaar het hy dit op 'n hoogtepunt afgesluit.
Groot-Brak se pak voorspelers was op die einde van die dag die verskil tussen wen en verloor, met lynstane en skrums wat gereeld skipbreuk gely het. In die kontaksituasies was hul oorheersing ook duidelik met Bridgton wat meer spelers by die afbreekpunte moes afstaan om omgekeerde besit te probeer stuit.
Hierdie numeriese verskil het daartoe gelei dat daar gereeld "overlaps" in die agterlyn ontstaan het waarin Groot-Brakrivier gedy het.
Die besoekers het welverdiend uit die wedstryd getree as wenner en die telling is 'n ware weerspieëling van wat in die wedstryd gebeur het.
Vir Bridgon het Tyrese Pietersen (vleuel), Craig Ellis (losskakel), Willem Jaftha (vleuel) en Wayne Julies (flank) agter die pale gaan kuier. Anver Venter (agsteman) het twee keer gaan druk met Jaftha wat in die kol was met een doelskop.
Stanley Kruger, afrigter van Bridgton
Stanley Kruger het na die wedstryd gesê dat hy trots is op sy span wat die groot aantal toeskouers met aanskoulike hardlooprugby vermaak het.
"Ons het definitief geleenthede gehad om meer drieë te druk, maar oor die algemeen het die manne hul harte uitgespeel. Ook aan Anver Venter wat in sy laaste wedstryd 'n barshou gespeel het. Alle eer aan Groot-Brakrivier vir 'n harde wedstryd; vanjaar beskik hulle oor 'n baie goeie span met 'n goeie pak voorspelers en agterlyn wat ook hulle ding kan doen. Dis veral hul vaste fasette waarin hulle uitstekend is. Ons fokus is nou op die laaste wedstryd van die seisoen teen Crusaders tuis op 7 Oktober wat ons graag op 'n hoogtepunt wil afsluit."
Kruger groet Bridgton aan die einde van vanjaar se seisoen weens gesondheidsredes. Onder Kruger se afrigtingskap het Bridgton vanjaar reeds 'n allemintige 14 oorwinnings uit 21 wedstryde behaal; 'n massiewe verbetering op verlede jaar toe hulle slegs agtste op die punteleer kon eindig. Crusaders, Heidelberg, Groot-Brak en Evergreens sal vanjaar sake uitspook in die uitspeelwedstryde met Bridgton wat vyfde sal eindig.
Kruger sê dat hy sy tyd by Bridgton-rugbyklub baie geniet het en wil hy graag sy dank uitspreek teenoor die uitvoerende bestuur en die ondersteuners vir die geleentheid om so 'n hoogaangeskrewe klub te kon afrig.
"Binne 'n bestek van 'n jaar het Bridgton diep in my hart kom kruip en die oomblikke wat ons saam naweek na naweek beleef het, sal my altyd bybly.
"Aan my boys, dankie dat julle ingekoop het by my wedstrydplan - dit was 'n plesier en voorreg om met so 'n talentvolle groep spelers te kon werk. Ook die president van die klub, Hennie Baartman, wil ek bedank wat heeljaar daar vir my was en sy woord gehou het."
Phillip Goliath, voorsitter van Bridgton-rugbyklub, het op sy beurt Kruger bedank vir sy doelgerigtheid en sy professionaliteit waarmee hy die klub op en van die veld verteenwoordig het.
"Ons beste wense vergesel hom in sy persoonlike kapasiteit sowel as met sy afrigtingsloopbaan.
"Ook aan sy gesin wil ons 'n woord van dank betuig dat hulle hom aan ons vir die jaar geleen het."
Afrigtings-vakature
Bridgton se uitvoerende bestuur het reeds 'n paneel aangestel om Kruger te vervang en die aangewese kandidaat sal eersdaags bekend gemaak word.
Die voorseisoen begin in Oktober-maand.
Anver Venter was in sy laaste wedstryd oudergewoonte op sy vernietigende allerbeste.
Die sterk senter Juandrè Fourie het ‘n barshou gespeel. Foto’s Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’