OUDTSHOORN NUUS - 'n Klag van bedrog wat spruit uit die beweerde onregmatige gebruik van klubfondse van die Bridgton-rugbyklub, word deur die polisie ondersoek.
'n Bron wat verkies om anoniem te bly het twee weke gelede aan die Oudtshoorn Courant gesê dat 'n klag van bedrog deur 'n bestuurslid van die Bridgton-rugbyklub by die polisie aanhangig gemaak is. Volgens die bron het 'n ouditeursverslag van 'n plaaslike ouditeursfirma ongerymdhede ten opsigte van uitgawes uitgelig.
"Die bankkaart van die klub is gebruik om privaat aankope te doen en selfs om elektrisiteit vir mense aan te koop. Ons praat van derduisende rande wat op hierdie manier sonder goedkeuring van die bestuur bestee is," het die persoon gesê.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het bevestig dat 'n klag van bedrog ondersoek word vir beweerde misbruik van klubfondse tussen 1 Oktober 2016 en 1 Oktober 2017.
Die anonieme bron het hierdie week gesê 'n tweede klag is verlede Vrydag ingedien nadat nog bykans R10 000 glo sonder goedkeuring van die bestuur, bestee is.
Die MAS nommer van die klag is verskaf, maar bevestiging is nog nie van die polisie ontvang nie.
Die Oudtshoorn Courant het verlede week navrae aan twee bestuurslede van die klub gestuur. Alhoewel hulle aangedui het dat hulle na afloop van 'n bestuursvergadering verlede Woensdag sou reageer, is geen reaksie tot dusver ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'