RUGBY NUUS - 'n Nuwe uitdaging wag môre, Saterdag 7 Mei, op die SWD Arende. Hulle speel in hul eerste wegwedstryd vanjaar in die eerste divisie van die Curriebekerreeks teen die Griffons in Welkom in die Vrystaat.
Al drie die Arende se wedstryde in dié reeks was tuiswedstryde op Outeniquapark. Hulle het ongelukkig die eerste wedstryd teen die OP Olifante verloor.
Daarna het dit beter gegaan en die span het teen Boland Kavaliers en die Luiperds gewen.
Anton Moolman, hoofafrigter van die span het Dinsdag, 3 Mei aan George Herald, susterkoerant van die Mossel Bay Advertiser gesê daar moet in gedagte gehou word dat die Griffons op die oomblik bo-aan die punteleer is. Dit gaan 'n moeilike wedstryd wees. Die Griffons is 'n baie goeie aanvallende span en hulle het hul eerste drie wedstryde in die reeks taamlik gemaklik gewen.
"Die span het op die oomblik baie selfvertroue en hulle behoort 'n moeilike span op hul tuisveld te wees."
Volgens Moolman is 'n wegwedstryd altyd 'n uitdaging. Daar is verskeie faktore wat 'n rol speel. Die span vertrek Donderdag per bus en die rit na Welkom behoort sowat 12 ure te neem.
Hy het benadruk die Arende gaan daarheen om te wen. Die span gaan nie daarheen net om in 'n wedstryd te speel nie.
"Die manne sien uit na die wedstryd en is gefokus op wat hulle wil bereik."
Afskoptyd is Saterdagmiddag om 15:00 in Welkom.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'