RUGBY NUUS - Die SWD Arende sit nie op moedverloor se vlakte nie en hulle is gereed vir Vrydag se wedstryd teen die Grens Bulldogs op Outeniquapark.
Al het dinge het tot dusver die seisoen in die 1ste divisie van die Curriebekerreeks nie maklik vir hulle verloop nie, is die gees in die Arende-kamp steeds goed.
Dit is die boodskap uit die geledere van die Arende en sy bestuur.
Die Arende moes reeds vier wedstryde gespeel het, maar kon net twee speel. Die eerste wedstryd teen die Valke het die Arende 17-50 verloor. Die twee wedstryde wat daarna moes plaasvind teen die Luiperds en die Valke moes afgestel word as gevolg van Covid-19.
Die afgelope naweek het dinge beter gegaan en die Arende het met 21-28 teen Boland in Wellington verloor. Dinge kon maklik anders verloop het want met net ses minute se speeltyd oor, het die Arende nog 21-20 voorgeloop. Hulle het darem een bonuspunt verdien uit die wedstryd.
Eddie Myners, afrigter van die SWD Arende, het Dinsdag gesê hy is baie tevrede met sy span se vertoning in die wedstryd. Dit gee 'n goeie aanduiding van wat die span kan doen. "Hou in gedagte dat Boland 'n gevestigde span het en dat dit slegs ons tweede wedstryd was. Bemoedigend is dat daar opwaartse kurwe en 'n verbetering in die span is. Ons het geleer uit die wedstryd. Ons het verloor en Boland het hom nie gewen nie, ons het die skrums oorheers."
Volgens Myners is dit nie maklik om teen Boland op sy tuisveld in Wellington te speel nie. "Hulle is baie moeilik op hul tuisveld."
Oor die pad vorentoe het hy gesê die Arende se neerlaag teen Boland het die span se kanse om die uitspeelrondes te haal 'n geweldige knou gegee. Daar is twee wedstryde oor en dit kan baie moeilik wees om die uitspeelrondes te haal.
Vrydag se wedstryd teen die Bulldogs wat om 17:00 begin het ook sy uitdagings. "Hulle is 'n onvoorspelbare span," het hy gesê.
Die wedstryd gaan beslis voort. Die Arende se spelers is Dinsdag vir Covid-19 getoets en die uitslae was negatief.
Na die wedstryd teen die Bulldogs moet die Arende op 24 Julie teen OP in Gqeberha speel. Myners het benadruk die span gebruik nou die wedstryde om 'n kern te bou vir aanstaande seisoen.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'