Video
RUGBY NUUS EN VIDEO - As die Stormers dink die beplande vriendskaplike rugbywedstryd teen die SWD Arende op 2 September op Outeniquapark gaan maklik wees, moet hulle weer besin.
Die Arende se afrigtingspan onder leiding van Anton Moolman, hoofafrigter, en Zane Kirchner (agterspelers) en Clemen Lewis (voorspelers) het 'n groep van sowat 30 spelers uit verskillende klubs regoor die streek bymekaargekry.
Die SWD Arende het reeds in alle erns begin met hul voorbereiding vir die wedstryd.
Die Stormers is op die oomblik die toprugbyspan in Suid-Afrika nadat hy in Junie die Verenigde Rugbykampioenskap gewen het. Die wedstryd op Outeniquapark is 'n opwarmingswedstryd vir die Stormers in aanloop tot die nuwe seisoen waarin hy sy kroon gaan verdedig.
Een van die uitdagings vir die Arende is tyd, want die wedstryd vind oor bietjie meer as twee weke plaas. Die afrigtingspan het juis Dinsdag 16 Augustus weer koppe bymekaargesit.
Kirchner het Dinsdag gesê die wedstryd is 'n geleentheid vir die spelers om te wys waartoe hulle in staat is.
"Ons onderskat hulle (Stormers) nie. Ons verstaan die uitdaging waarvoor ons te staan kom." Dis spelers besef ook die geleentheid wat die wedstryd vir hulle bied.
Lewis het gesê daar is nie 'n beter pak voorspelers as die Stormers nie. "Die wedstryd gee vir ons 'n geleentheid om te wys wat in die streek beskikbaar is."
Moolman het gesê die wedstryd is 'n geleentheid vir die jonger spelers om hand op te steek teen die bestes. Die spelers is baie opgewonde oor die vooruitsig om teen die Stormers te kan speel.
Uit 'n afrigtingsoogpunt is die doelwit om te kan sien wat in drie weke bereik kan word. Uit 'n spelersoogpunt is dit 'n geleentheid om hulself te meet teen hul direkte teenstanders in hul onderskeie posisies.
Daar is nie 'n groot verwagting vir die wedstryd uit die Arende se oogpunt nie. Die spelers kan dit geniet en trots bou. Hy het egter bygevoeg die Arende sal mededingend wees en 'n stewige vertoning lewer.
Moolman het lof gehad vir die klubs se rol. Hulle is baie ondersteunend en stel spelers beskikbaar.
Hy het 'n beroep op Arende en Stormers se ondersteuners gedoen om die wedstryd by te woon.
VIDEO: Arende begin gereed kry vir Stormers
Kaartjies
Veda Manie, bestuurder van SWD-rugby, het Dinsdag gesê daar is redelike groot belangstelling vir kaartjies. Kaartjieverkope vir die wedstryd het Maandag (15 Augustus) geopen. Mense kan SWD-rugby direk kontak.
Afsetpunte gaan ook in Mosselbaai en George-omgewing oopgemaak word. Voorts sal gekyk word na afsetpunte in ander gebiede.
Vir meer besonderhede kontak oor die wedstryd kontak SWD-rugby by 044 050 0660.
Die Arende se afrigtingspan. Zane Kirchner (agterspelers), Anton Moolman (hoofafrigter) en Clemen Lewis (voorspelers) Dinsdag toe hulle koppe bymekaargesit het oor die wedstryd teen die Stormers. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'