OUDTSHOORN NUUS - All Blacks se A-span het die afgelope naweek hul Super B-liga derbywedstryd op die Bridgton-sportterrein gemaklik met 45 - 22 teen Collegians gewen.
Hierdie oorwinning beteken dat die manne in swart nou derde op die algehele punteleer lê.
Volgens die voorsitter van All Blacks, Damon Gysman, is die span se doelwit om minstens na die tweede of derde plek te skuif aan die einde van die liga.
Vir All Blacks het Everton Manewil (slot), Ashwin Lucas (stut), John Jackson (vleuel) en Nathan Baartman (vleuel) elk een drie gedruk. Darren Coerecius was suksesvol met drie doelskoppe sowel as drie strafskoppe.
In 'n Super A-ligawedstryd op die Oudtshoorn-sportterrein het Bridgton vir Eagle Stars oortuigend verlede naweek met 47 - 20 ore aangesit.
Vir Bridgton het Tyrese Pietersen heelagter), Duzill Avontuur (vleuel), Charlston Ewerts (vleuel), Jolin Saptou (agsteman) en Wayne Julies (flank) elk een drie gedruk. Eugene Booysen (senter) het twee keer agter die pale gaan kuier. Bridgton se volgende wedstryd is vandag (Donderdag) teen Maoris van George op die Bridgton-sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'