OUDTSHOORN NUUS - All Blacks-rugbyklub se A-span het Saterdag in 'n Super B-ligawedstryd by die Bridgton-sportstadion met 31 - 30 in 'n rillerstryd teen Knysna vasgeval.
Die besoekers het binne die eerste vyf minute gewys waarom hulle tans die voorlopers in die liga is toe hulle moeiteloos vir 'n onverdoelde drie deurgedrentel het.
All Blacks se nuwe opwindende jong skrumskakel, Eaj Carew, het oomblikke daarna suksesvol vir 'n strafskop vanaf Knysna se kwartlyn aangelê pale toe wat die telling na 5 - 3 geneem het.
Carew het egter drie minute daarna 'n gulde geleentheid verbrou om sy span die voortou te laat neem toe hy van bykans dieselfde merkie af, 'n relatiewe maklike strafskop verbrou het.
Dit was duidelik dat dit Knysna se wedstrydplan was om All Blacks se agterste driehoek met energieke hardloopspel te beproef met die manne in swart wat vir bykans 10 minute lank hul keer moes ken.
Everton 'Rots' Manewil het met omgekeerde balbesit Knysna se verdediging met tipiese voorspelerkragspel oopgekloof vir 'n drie onder die pale.
Carew se verdoeling was vlak voor die pale teen die regterpaal vas, met All Blacks wat nou met 'n klein voorsprong van 8 - 5 voorgeloop het.
Knysna se volgehoue pogings om die bal lug te gee het weereens vrugte afgewerp toe hulle 'n strafskop binne All Blacks se helfte gewen het.
Die tuisspan is aan die slaap gevang met 'n vinnige tikskoppie vir 'n verdoelde drie onder die pale.
Telling 12 - 8 in Knysna se guns. Kort daarna is All Blacks se stut Marcelist Jafte, met 'n geel kaart vir ongeoorloofde spel binne 'n rolgemaal, deur die skeidsregter van die veld gestuur wat die tuisspan effektief met 14 spelers teenoor 15 gelaat het.
Knysna het die numeriese verskil onmiddellik uitgebuit met 'n teenaanval vanuit hul eie helfte na 'n hanteringsblaps van All Blacks om weer agter die pale te gaan kuier vir 'n verdoelde drie. Telling 19 - 8 in Knysna se guns.
Die vleuel Eslin Olkers was regdeur die middag 'n moeilike kalant om vas te trek en het drie driee gedruk.
Was dit nie vir 'n onvergeeflike aanslaan na die afskop deur die besoekers se agterlyn met 'n oop doellyn voor hulle nie, sou Knysna beslis weer onder die pale gaan druk het wat 'n stewige voorsprong kort voor rustyd aan hulle sou besorg het.
Met Jafte se 10 minute "sin bin"- geelkaart nou verstreke, het All Blacks se Eslin Olkers (vleuel) 'n drie in die hoekie gaan druk nadat Carew die besoekers in eie munt terugbetaal het met 'n vinnige tikskoppie vanaf 'n strafskop om sy agterlyn weg te stuur vir 'n onverdoelde drie.
Telling 19 - 13 vir Knysna.
All Blacks se nuutgevonde kontinuïteit het dividende opgelewer met hul heelagter, Wilton Hoogbaard, wat die eerste helfte afgesluit het met 'n drie wat deur Carew verdoel is. Rustyd het All Blacks met 20 - 19 voorgeloop.
Tweede helfte
Die afskop van die tweede helfte het weereens, soos met die aanvang van die wedstryd, katastrofies vir die manne in swart begin toe Knysna onmiddellik met blitsvinnige balverspreiding 'n onverdoelde drie gaan druk. Knysna loop voor met 24 - 20.
All Blacks het in 'n dringende antwoord dadelik teruggeslaan toe Olkers die verdediging na lug laat tas het om die tuisspan binne trefafstand te hou.
Die doelskoppoging pale toe was mis, en met die telling 25 - 24 in All Blacks se guns, het die wedstryd nou in 'n wipplank-affêre ontaard.
Knysna gaan druk met 10 minute se speeltyd oor 'n verdoelde drie onder die pale om die telling op 31 - 25 te staan te bring.
Met die tyd wat uitloop en gevaarligte wat vir die tuisspan begin flikker, het Hoogbaard met 'n stukkie briljante individuele spel vir Olckers in 'n gaping gesit om sy derde drie van die wedstryd in die hoekie te gaan druk wat die tuisskare oorverdowende hoop gegee het dat die wedstryd in die sakkie is.
Die losskakel, Damion Januarie, het egter dié belangrike verdoeling misgeskop wat All Blacks met een punt sou laat voorloop het met minder as vyf minute se speeltyd oor voor afblaastyd.
Die tuisspan se vlugvoetige vleuel, Nathan Baartman, het met die wedstryd se laaste beweging 'n finale kans gehad om die wedstryd in die doodsnikke vir sy span te beklink, maar is enkele sentimeters voor die doellyn onder die pale met desperate verdediging vasgetrek.
Knysna het hierna balbesit jaloers beskerm totdat die skeidsregter die wedstryd afgeblaas het wat aan hulle 'n naelskraapse oorwinning van 31 - 30 besorg het.
Alhoewel daar heelwat skaafwerk aan Eaj Carew se stelskopwerk is, het hy beïndruk met sy ondernemende spel met bal in hand. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'