OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die A-span van All Blacks-rugbyklub is tans in witwarm-vorm en het die naweek 'n vyfde agtereenvolgende oorwinning in die SWD Presidentsliga behaal toe hy Oudtshoorn-rugbyklub op die Bridgton-sportterrein met 42-14 van die baan gevee het.
Die twee spanne het in die eerste helfte goed teen mekaar opgeweeg met albei spanne wat avontuurlustig die bal rondgegooi het.
Teen halftyd was die telling 13-9 met die wedstryd wat nog in die weegskaal was.
All Blacks het egter in die tweede helfde sy spiere behoorlik gebult en 4 drieë teenoor slegs die een van Oudtshoorn-rugbyklub gedruk om die wedstryd gemaklik te beklink.
Met hierdie oorwinning is die swart truie nou tweede op die algehele SWD Presidentsliga punteleer. Die span is ook tans in die tweede plek op die Karoostreekliga punteleer.
Op albei puntelere het All Blacks een wedstryd minder gespeel as die voorlopers. All Blacks se volgende wedstryd is 1 Junie teen Adias op die Bridgton-sportterrein.
Puntemakers vir All Blacks:
Mortimer Philander (haker) en Howard Goliath (slot) het elk twee drieë gedruk.
Nathan Baartman (vleuel) en Marvin Wilken (senter) het elk een keer agter die pale gekuier.
Vinchenzo Adams (skrumskake) was in die kol met twee strafdoele en drie doelskoppe.
In nog 'n SWD Premierliga wedstryd die naweek het Collegians vir Prins Albert by die Oudtshoorn-sportgronde 37 – 32 gewen. Bridgton het Saterdag in 'n SWD Premierliga wedstryd vir Silverstars op George met 46-19 verslaan.
Die haker, Mortimer Philander, val oor vir sy drie in die hoekie.Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'