OUDTSHOORN RUGBY NUUS - All Blacks het Woensdagmiddag by die Oudtshoorn-sportgronde sy onoorwonne status in die SWD Presidentsliga voortgesit toe hy Harlequins in 'n naelbytstryd met 28-27 geklop het.
Die swart truie het ook verlede Saterdag met Prins Albert-rugbyklub op Prins Albert met 30-19 afgereken. Harlequins het in die wedstryd teen All Blacks eerste punte aangeteken toe sy losskakel Heinie Agulhas met 'n strafskop geslaag het.
All Blacks se heelagter, Johannes van Vuuren het kort daarna deur 'n gaping geglip en oorgeval vir sy drie.
Die skrumskakel,Vinchenzo Adams was suksesvol met die doelskop wat aan All Blacks 'n vroeë voorsprong van 7-3 besorg het. All Blacks was egter kort daarna by die afbreekpunte vir ontkantspel gestraf met Aghulhas wat geen fout met die strafskop gemaak het nie. Telling 7-6.
Die wedstryd het daarna in 'n wipplank affêre ontaard met beide spanne wat hul teenstanders se verdediging na willekeur oopgekloof het. Dit was egter Harlequins se sterk senter Adrian Donson wat met brute krag deur All Blacks se verdediging gebars om ander die pale te druk. Agulhas het die doelskop oorgeklits. Adams, All Blacks se skrumskakel, het egter deurentyd sy span binne trefafstand gehou deur drie strafdoele in die eerste helfte deur die pale te jaag om sy span teen rustyd met 16-13 te laat voorloop.
All Blacks se flank, Justin Bruintjies, skud Harlequins se verdediger af terwyl sy spanmaat, Everton Manewil (regs), angstig wag vir die bal. Foto: Wyndham Ewerts
Vroeg in tweede helfde het Harlequins se stut Ndiyabulela Gayiya 'n verdoelde drie gedruk terwyl All Blacks se vleuel Nathan Baartman ook agter die doellyn gaan kuier het.
Adams was onsuksesvol met Baartman se drie wat die telling op 28-20 te staan gebring het. Met 10 minute se speeltyd oor het Harlequins se glibberige losskakel, Agulhas, All Blacks se verdedigers na lug laat tas om onder die pale te gaan druk. Hy het ook sy eie drie verdoel. Telling 28-27.
Harlequins se ondersteuners was in vervoering met dié drie en hul span het nou vas geglo dat hulle tog die kastaiings uit die vuur sou krap in die laaste minute van spel.
All Blacks se hardnekkige verdediging het egter enduit gehou om aan hulle 'n welverdiende oorwinning te besorg. In nog 'n SWD Presidentsliga wedstryd het Spring Roses op die Bridgton-sportgronde vir Collegians met 25-22 geklop. Adias van Volmoed het in 'n SWD Presidentlsiga wedstryd op die Oudtshoorn-sportgronde net-net teen Harlequins met 17-14 die onderspit gedelf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'