OUDTDSHOORN RUGBYNUSU - All Blacks het die afgelope naweek die span van Uniondale oortuigend op die Bridgton-sportterrein met 34-11 gewen. Die rustydtelling was 20-6 in All Blacks se guns.
Die wedstryd is teen 'n geweldige tempo deur beide spanne gespeel. All Blacks het eerste punte aangeteken met 'n strafdoel deur hul SWD o.20-skrumskakel, Larry Paulse. Paulse het in sy All Black-debuutwedstryd die wedstryd baie goed dikteer en die bal voor sy voorspelers gehou.
Uniondale het geantwoord met 'n strafskop wat die telling op drie elk te staan gebring het. Beide spanne het nog een strafdoel aangeteken, tot All Blacks beheer oor die wedstryd geneem het. Eers het Ronaldo Jansen, buitesenter, gaan druk en kort daarna het Everton Manewil, na goeie samespel tussen voor en agterspelers, onder die pale gaan druk. Manewil was uitstekend en met sy aggressiewe inklimspel en kraglopies, bo alle spelers op die veld uitgetroon. Paulse het beide drieë verdoel om die rustydtelling op 20-6 te staan te bring.
In die tweede helfte het All Blacks die pas van die wedstryd versnel en Uniondale kon nie meer al die gate toestop nie.
Hendrico (John) Jackson het in die tweede helfte die eerste drie vir die wenspan gedruk. Paulse het verdoel. Uniondale het nooit bes gegee nie, maar kon nie deur All Blacks se verdediging breek nie. Manewil het All Blacks se bonuspuntdrie gedruk. Uniondale het kort voor die einde van die wedstryd 'n troos-drie gedruk om die eindtelling 34-11 in Blacks se guns te maak.
Ronaldo Jansen, Hendrico Jackson en Everton Manewil het vir All Blacks se drieë gesorg terwyl Larry Paulse en Damian Januarie drie drieë verdoel het. Paulse het ook strafskoppe aangeteken.
All Blacks se B-span het 12-19 verloor.
Puntemakers: Juandré Murphy en Trevor Afrika het die drieë gedruk en Murphy het ook 'n drie verdoel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'