OUDTSHOORN RUGBYNUUS - "Ons moet die klub se geskiedenis bewaar, nie omdat ons wil vasklou aan die verlede nie, maar omdat dit so 'n ryke geskiedenis is."
So het David Piedt, oud-All Blacks-speler tydens die klub se prysuitdeling Vrydagaand gesê. Piedt was ook die gasspreker.
Die klub het vanjaar slegs vyf van sy 16 wedstryde in die SWD Presidentsliga verloor en algeheel sewende in die liga geëindig. In die Karoostreekliga kon die swart truie daarin slaag om tweede op die punteleer te eindig.
Volgens Damon Gysman, voorsitter van die klub, is die span oorgehaal om volgende jaar die SWD Presidentsliga te wen om sodoende vir die SWD Premierliga te kwalifiseer.
Bridgton-rugbyklub is tans die enigste span wat Oudtshoorn in hierdie topliga verteenwoordig.
Spelers vereer
- Hendrico Jackson (meeste drieë)
- Kwezi Taytay (beste B-span speler)
- Anslin Wienster (sportman van die jaar)
- Adion Klati (A-span voorspeler en sportman van die jaar)
- Justin Bruintjies (beste A-span speler)
- Larry Paulse (A-span agterspeler en nuweling van die jaar)
- Johannes Janse van Vuuren (beste B-span agterspeler en beste B-span speler)
- Damian Januarie (beste A-span speler)
- Angelo Janse (beste B-span voorspeler)
- Hugh-Jay Strydom (mees belowende A-span speler)
Oefentye
"Ons begin reeds 7 Januarie 2019 met ons voorseisoen voorbereiding, sodat ons genoeg tyd tot ons beskikking kan hê om te kan werk met die spelers se kondisionering en fiksheidsvlakke. Nuwe lede is altyd welkom om by ons klub aan te sluit.
Projek 70
Die klub is ook vanjaar 70 jaar oud, en ons beoog om dit 'n baie suksesvolle jaar op en van af die veld te maak. Ons wil graag ons oudlede en spelers vereer vir hul bydraes wat hulle gelewer het, en daarom het die All Black bestuur besluit om Projek 70 van stapel te stuur."
Volgens Gysman behels die projek dat spelers, ondersteuners, besighede, oudspelers en die publiek R70 skenk deur dit in die klub se rekening te deponeer met die skenker se naam as verwysing.
Die instansie of persone se name sal dan op alle korrespondensie en fees rugbytruie verskyn, asook tydens funksies van die 70 jaar feesvieringe.
Besighede word ook gevra om R700 te skenk. In ruil vir die skenking kan die betrokke besigheid adverteer en sake doen tydens al ons tuiswedstryde en funksies vir 2019.
Vir enige navrae skakel Damon Gysman (voorsitter) by 078 099 7746.
Die spelers wat vanjaar vereer is vir hul bydrae is voor, van links: Hendrico Jackson, Kwezi Taytay, Anslin Wienster, Adion Klati, Justin Bruintjies en Larry Paulse. Agter: Johannes Janse van Vuuren, Petrus Baartman (hoofafrigter),Damian Januarie, Damon Gysman (voorsitter), Angelo Janse en Hugh-Jay Strydom. Foto: Ebenezer Titus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'